• Stephan Joubert

Gedetailleerd getrou aan die Here!



Die St. Paul’s Katedraal is ’n belangrike baken in Londen. Die grafsteen van Christopher Wren, die argitek van hierdie indrukwekkende gebou, is ook hier te sien. ‘n Latynse opskrif hierop, as deel van die herinnering, lui as volg: “Indien jy ‘n monument ter herinnering aan hom soek, kyk rondom jou.” Wat ‘n getuigskrif! Dit laat my wonder watter woorde reg aan ons elkeen se lewe sal laat geskied as eendag nie meer hier is nie? Ek hoop nie dit is iets soos: “Hy het lewenslank net sport gekyk” nie. Of: “Sy het gedurig in winkelsentrums rondgeloop” nie. Of nog erger: “Hy het gesê dat hy eendag iets vir die Here wil doen, maar dit was toe te laat.” Of dalk: “Sy het graag vertel sy moet meer tyd vir die Here en haar gesin maak, maar toe daag die dood eerste op!”


Die mooiste opskrif bo-oor ons lewe sal wees wanneer Jesus en Sy engele vir ons sê: “Welkom in die heerlikheid van Here. Oor min was jy getrou, maar van nou af word jy oor baie aangestel.” Hierdie is die woorde van die eienaar aan Sy getroue dienskneg in die gelykenis van die talente in Matteus 25:23. Dit moet ons herinner dat ons lewe hier op aarde saak maak. Ons durf nie toelaat dat een enkele dag in ons lewe nutteloos verbygaan nie. Selfs die geringste dinge, wat ons doen, het ‘n impak voor die Here. Ons moet Hom getrou tot in die kleinste detail van ons lewe dien. Ons moet in die kleinste dingetjies tot Sy eer uitblink. Christus neem kennis van ons lewe, selfs al neem niemand anders hiervan kennis nie. Al weet niemand dat ons stilweg ander se laste dra en mense dien nie - God weet! Ons moet gedetailleerd aan die Here getrou wees. Dan rig ons die regte herinneringsteken as getuigskrif oor ons lewe op. Dan sal die Here ons tot in ewigheid onthou.