Gebruik dit, of verloor dit!
top of page

Gebruik dit, of verloor dit!


Die vervulling met die Gees werk in ‘n sekere sin soos daardie “use it, or loose it” reël in rugby. Ja, ek weet die Gees is ten volle by my en dat Hy my nie verlaat nie. Ek glo ook met my hele lewe dat Christus my veilig tot anderkant die doodlyn dra. Maar ek weet ook ek kan nie eindeloos bly vasklou aan laasweek se opgebruikte geloof nie. My pad saam met die Gees gaan oor hoe ek hier en nou, vandag, oop is vir sy werk. My verhouding met Christus moet vandag ‘n impak op my lewe hê, anders is dit eintlik net “argiefmateriaal.” As ek slegs goeie herinneringe het oor hoe God se Gees my iewers in die verlede gebruik het, dan is ek moontlik onderweg na die Museum vir Uitgestorwe Gelowiges!


Geloof is om die Heilige Gees elke dag te vertrou met my heel kosbaarste besitting - my eie lewe. Ek moet daagliks leef met die wete dat my geloof eintlik net so lewendig en relevant is soos my heel jongste treë saam met die Gees. Om met Hom vervul te wees, is om hier en nou die heeldag lank op sy koers te bly. Dis om vandag na Hom op te kyk vir lewe, krag, brood, genade, ontferming en sy nabyheid. Dis om vandag alles van die lewende Here te verwag.


Gebed:

Bly by my Gees van Christus. Maak my vol met u heerlikheid. Amen.

bottom of page