Fietsryer
top of page

Fietsryer


Die wolke raak al hoe donkerder. Ek is onseker of ek die huis gaan haal voordat die eerste druppels val. My sporthorlosie sê ek is omtrent halfpad met my oefenroete.


Ek gee nie werklik aandag aan die man, wat wydsbeen oor sy fiets staan nie.


“Middag, Meneer,” groet hy, byna te hard, sodat ek vir ʼn oomblik my drafritme kwyt raak.


“Hallo,” asem ek uit.


“Ek sit net al die goete reg,” verduidelik hy. “Ek moet lekker fietsry en die goete pla my nou,” hou hy aan.


Ek verstaan nie al die verduidelikings nie en hou aan met draf.


“ʼn Mens moet gemaklik sit wanneer jy fietsry,” gaan hy eenvoudig voort.


Ek het regtig nie hierdie sin of twee nodig gehad nie. Die man se aangehoue behoefte om te verduidelik, trek meteens my aandag van die wolke en die sonsondergang af. Ek “replay” wat ek sopas gesien en gehoor het.


Sowaar.


Hy was besig met ʼn paar plastieksakkies, wat hy herrangskik het. En binne-in die sakkies was een of ander onbekende wit poeier. Hy was besig om die poeiersakkies te ondersoek en op ander maniere te verpak. My skielike verskyning van oorkant die bult het hom onverhoeds betrap.


“Dis alles reg,” roep ek oor my skouer. “Moet my asseblief nie nog enigiets vertel nie,” dink ek geluidloos terwyl ek uitasem. “Hoe minder ek weet, hoe beter vir ons almal,” asem ek in. Genadiglik hou die man uiteindelik op met praat en ek verdwyn om die draai. Wat ook al sy hande gevind het om te doen, was nie wettig nie. En sy verduidelikings het hom verklap. Te veel woorde. Te veel glimlagte. Te veel motiverings.


ʼn Paar dae later draf ek by dieselfde plek verby. Daar staan twee mans in die middel van die pad, op presies dieselfde plek. Hierdie keer groet ek eerste.


“Hallo,” lag die een en kyk my skaterend met sy oop mond aan. Ek ruik die reuk van tabak. Die teruggroeter wag geduldig met sy sigaret teenaan sy vriend se sigaret. Die vriend teug en teug om sy eie sigaret so in die koue vroegaand aan die gang te kry. Hy knik toe ons oogkontak maak. Niks word weggesteek nie. Niks word verduidelik nie. Beide van hulle se oë lag saam met myne en alles is oop en bloot. Die afwesigheid van woorde sing saam met die sonsondergang. Daar is geen plastieksakkies en geen wit poeier nie. Geen skuldgevoelens of vreemde, ongevraagde verduidelikings nie.


Dit is tóé eers wat ek dit verstaan.


Wanneer mense onseker voel van hulle saak, of skuldig voel, of verkeerd is, moet hulle verduidelik. Dan is baie woorde en sinne nodig.


Maar wanneer daar niks is om weg te steek nie, dan hoef jy nie woorde te gebruik nie. Jy lag breëmond en gaan voort met wat jy doen.


Ewe skielik wonder ek oor die plekke en tye waar ek te veel woorde nodig gehad het.


Soms het Jesus met sy stilblytye juis gewys waarvoor Hy gekom het. Ek hoef nie almal met my woorde te oortuig nie. Hou net aan om te doen wat jy moet doen. God se Nuwe Wêreld is nie afhanklik van jou verduidelikings nie. Wanneer ek reg doen aan my naaste, dan doen ek dit sonder skaamte en sonder woorde. Maar wanneer ek te veel moet verduidelik, dit is dán wat ek moet wonder oor dít waarmee ek besig is.

bottom of page