Evalueer jou geloof
top of page

Evalueer jou geloof


Hoe kan jy jou geloof evalueer? Lees gerus hoe Roedolf Botha ons help in sy nuutste My Wêreld nuusbrief.
Evalueer jou geloof

Hoe weet mens hoe sterk jou geloof werklik is? Het jy al gewonder hoeveel druk jou geloof sal kan hanteer of hoe gesond dit is? Petrus uiter interessante woorde in hierdie verband in 1 Petrus 1:6-7. Hy sê:


Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word.


Petrus skryf aan mense, wat uiters swaar kry. Dan herinner hy hulle aan die fantastiese nuus, wat Jesus vir ons gebring het, en hy maan hulle om hulleself te verbly daaroor. Hy vertel vir hulle dat hulle identiteit daarin gevind moet word dat hulle God se uitverkorenes is en dat Sy genade en vrede oor hulle die wag hou. ‘n Mens moet sulke dinge weet, wanneer lyding of dood aan jou deur kom klop.


Maar dan sê hy dat swaarkry, onsekerheid en frustrasie een groot voordeel kan saambring: dit bring perspektief oor jou geloof. Dit wys vir jou van watter stoffasie jou eie persoonlike geloof in werklikheid gemaak is. Hierdie is nie ‘n refleksie op Jesus of die evangelie self nie. Nee, dit gaan hier oor jou persoonlike verstaan en uitleef daarvan. Dit gaan oor jou volwassenheid en jou liefde vir Jesus en jou verstaan van Sy Goeie Nuus.


Hierdie toets is egter nie vir God nie. Dis nie Hy wat jou geloof toets nie - hoekom sal Hy? Hy weet mos in elke geval alles. Hy weet mos wat jou geloof kan hanteer en wat nie. Nee, hierdie toets is vir jóú, sodat jy die diepte en gesondheid van jou éie geloof kan peil.


Dis slegs wanneer jou geloof onder druk geplaas word dat jy dit werklik kan evalueer. Dis waarom niks ons geloof so toets soos lyding nie. Lyding bring weerstand en druk teen ons geloof. Die vraag is dan of ons geloof harder kan terugdruk. Die hoeveelheid druk, wat ons kan hanteer, openbaar aan ons die egtheid, diepte, krag en perke van ons eiesoortige verhouding met God.

  • Kan jou geloof die komplekse vrae en frustrerende omstandighede van die lewe hanteer?

  • Is jou teologie (jou verstaan van God, mens en die lewe) akkuraat?

  • Kan jou geloof steeds liefde en genade uitdeel aan mense, selfs al is hulle die oorsaak van jou lyding?

  • Kan jy empatie hê met mense, selfs in hulle donkerste oomblikke, wanneer hulle winkelsentrums beroof of ander skade aanrig?

En wat as ons geloof ons faal? Wel, dan vang Jesus se genade en vergifnis ons sodat ons weer kan probeer.


Jesus se geloof in God het Hom deur Getsemané, deur Sy vriende se verraad en lafhartigheid, deur die kruis geneem tot by die lewe van die opstanding.


Tot waar sal jóú geloof jou kan neem?

bottom of page