• Stephan Joubert

Elkeen is onmisbaar


Lees 1 Korintiërs 12:19


In die wêreld is daar ‘n gewilde spreekwoord: Niemand is onmisbaar nie. Wel, dit geld nie volgens Paulus in Jesus se aardse liggaam nie. Hier is elke ledemaat onmisbaar. Net soos wat ‘n gesonde liggaam nie enige ledemate kan ontbeer nie, net so kan die kerk nie sonder elke lid behoorlik funksioneer nie. Maar ons het al so gewoond geraak aan ‘n siek kerk in die intensiewe eenheid met een of twee leraars, wat soos dwarrelwinde van vroeg tot laat rondhardloop en ‘n klein groepie getroue lidmate, wat alles doen, dat ons nie eens meer agterkom dat elke kerklidmaat onmisbaar is nie. Ons glo dat die wêreld se sienings ook maar in die kerk geld. Wel, die Skrif sê dit is nie waar nie.


Dis jou en my werk om die Here se mense op te bou deur diegene, wat geestelik minderwaardig voel op te bou in hul geloof, sodat hulle elkeen daardie plekkie kan volstaan, wat die Here spesiaal vir hulle voorberei het om namens Hom te beman en te bevrou. Ons mag nie dat daardie klein groepie getroues dinge doen in die kerk, waarvoor die Here hulle eintlik nie geestelik toegerus het nie. Dan verwag ons die onmoontlike van hulle. Wel, nie eens die Here verwag van ons om dinge te doen waarvoor Hy ons nie deur Sy Gees bekwaam gemaak het nie. Gelukkig is Hy nie soos ons nie.



Gebed:

Here, dankie dat elkeen van U kinders onmisbaar is. Amen