Elke dag tel!
top of page

Elke dag tel!


Stephan Joubert skryf in sy nuute Goeie Nuus hoe dit lyk as ons leef dat elke dag tel.
Elke dag tel!

Charles Francis Adams was die Amerikaanse ambassadeur in Brittanje gedurende Abraham Lincoln se presidentskap. ’n Inskrywing in sy dagboek, gedateer 4 Junie, het gelui: “Wasted the whole day fishing with Jimmy. Didn't catch a thing.” Sy seun, Jimmy, se inskrywing in sy eie dagboek op daardie dag het egter die volgende gesê: “Went fishing with my dad. Best day of my life.” Wat ’n verskil tussen ’n pa en seun se belewenis van dieselfde dag. Een persoon se mislukte dag was ’n ander persoon se beste een ooit. Kom ons leer hieruit dat elke dag, wat die Here aan ons gee, ’n nuwe dag propvol geleenthede is. Dikwels kom hierdie geleenthede oor ons pad sonder dat ons dit eens besef. Ons moet egter onthou ons is nie net in diens van die Here as ons dink ons is nie. Of as ons besluit ons is nie. God gebruik ons dikwels sonder dat ons dit weet. Tydig en ontydig gebruik Hy ons. Ons is altyd aan diens vir Hom.


Soms is dit bloot net ons teenwoordigheid in ander se lewens wat die wêreld se verskil maak. Ander kere is dit ’n gewone glimlag, ’n sagte woord, ’n klein daad van omgee. Meld asseblief aktief aan by elke dag, wat bekend staan as vandag. Wees aanwesig in die Here se Naam! Wees aanwesig met die bedoeling om ’n lewende seën vir ander te wees, al weet jy nie hoe dit gaan uitspeel nie. Wees net hier en los die res aan die Here oor. Hy sal sorg vir die regte vrugte in jou lewe en in die lewens van ander. Hy sal sorg vir die regte resultate op Sy eie maniere.

bottom of page