• Roedolf Botha

Ek wens...


Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld oor "Ek wens..."
Ek wens...

Dit bly vir my fassinerend hoe Hollywood dit darem so nou en dan regkry om temas van die evangelie in hulle stories in te weef. Met Covid-19 en die beperking op fliekteaters het ek lanklaas ‘n fliek in ‘n teater gesien. Daar is egter een, wat ek wel gesien het, met ‘n interessante tema. Dit is die nuutste Wonder Woman-prent, bloot getiteld Wonder Woman ’84.


Dit vertel die storie van die skurk, Max Lord, wat die wêreld deur middel van ‘n magspel wil domineer en almal op Aarde se wense wil laat waar word. Sy leuse aangaande die lewe is:


Life is good but it can be better!


Hy teer dus op die mens se algemene houding van hebsug, ontevredenheid en onvergenoegdheid om altyd meer en meer te wil hê. As strategie gebruik hy ‘n antieke voorwerp met bonatuurlike magte, wat min of meer soos die lamp van Alladin werk. Wanneer iemand ‘n wens maak, terwyl hy die voorwerp vashou, dan word sy wens waar. Max Lord se strategie is redelik kompleks, maar die basiese idee is dat hy deur middel van tegnologie en media poog om soveel as moontlik mense op Aarde die geleentheid te gee om hulle wense te laat waar word.


Tydens die verloop van die storie word al hoe meer mense se wense vervul. Later is dit miljoene mense wie se wense deur middel van die vreemde objek waar word. Die effek hiervan op die wêreld was uiters interessant. Hoe meer die momentum reg oor die wêreld toeneem, terwyl mense se wense vervul word, hoe meer word die ganse planeet in chaos gedompel. Ekonomieë stort ineen, oorloë breek uit, hongersnode tref op baie plekke, terwyl mense se uiteenlopende wense in die wêreld realiseer. Selfs Wonder Woman word hierdeur meegesleur deurdat sy wens om weer haar afgestorwe geliefde te kan sien. Sy word egter die heldin in die rolprent, toe sy heel eerste besef dat dit juis hierdie selfsug van vervulde menslike begeertes is, wat die wêreld so seermaak en vernietig. Sy besef ook dat sy nie die mense kan help, as sy nie self haar eie wens opgee nie. Sy doen toe die pynlike maar volwasse ding deur haar geliefde op te gee met die woorde:


I renounce my wish! (Ek ontsê myself my wens.)


Terwyl sy dus toenemend met mense interaksie het, lei haar voorbeeld daartoe dat hierdie frase later regoor die wêreld herhaal word. I renounce my wish. Ek kon nie help om te dink dat dit steeds vandag in ‘n groot mate die oorsaak van baie van ons ellende is nie. Daar is te min mense met mag wat die selfbeheersing en tevredenheid aan die dag lê om hulle hul eie begeertes te ontsê nie. Dink net hoe fantasties dit sal wees, indien al die mense so nou en dan sê: Ek ontsê myself my eie begeertes.


Natuurlik leer die Bybel ons dat ons God kan vra vir dit wat ons begeer (Fil 4:6). Om die goedheid en voorsiening van die Here te geniet, is tog ook een van ons grootste bronne van vreugde. Jesus sê egter ook dat ons onsself moet verloën en ons kruis opneem. Dit beteken dat ons die mense rondom ons eerste sal stel: húlle welsyn, húlle geluk, húlle kwaliteit van lewe. Dis tog die voorbeeld van Jesus aan die kruis. Dit stel ons vry van enige verpligting om alewig ons eie begeertes vervul te sien.


Hoe lanklaas het jy vir die Here gesê:


Here, ek gee hierdie intense begeerte van my op ter wille van ander?