Ek is dankbaar vir genade … regtig, ek is!
top of page

Ek is dankbaar vir genade … regtig, ek is!


Stephan Joubert skryf in sy nuuste Goeie Nuus oor hoe dankbaar hy is vir genade.
Ek is dankbaar vir genade … regtig, ek is!

Ek is dankbaar vir genade. Nee, dit is nie net ’n cliché nie. Ek is my ganse lewe verskuldig aan die oorvloedige, gratis-en-verniet genade van God. Ek is so bly ek hoef nie met Hom te onderhandel om Sy guns te probeer wen nie. Of enige teenprestasies aan Hom te lewer in ruil vir Sy hulp nie. In die woorde van Miga 6:6 - 8 hoef ek ook nie gedurig reuse offers en duur geskenke na die Here toe te neem om Sy goedkeuring te behou nie. Ek weet Hy het my eerste lief gehad, nog lank voordat ekself dit geweet of geglo het. In Romeine 5 se taal het Christus vir my gesterf toe ek nog ’n sondaar was. Hy het alles vir my opgeoffer, toe ek nog ’n vyand van God was. Hy het dit gedoen, terwyl ek magteloos in my sonde en doodsheid verstrengel was.


Ek is dankbaar dat God my lief het. Hy doen dit, omdat Hy ’n goeie en genadige God is. Hy doen dit nie,omdat Hy enigiets van my kant af nodig het nie, maar omdat Hyself vol ontferming en medelye is. Hy is die Almagtige God, wat hemel en aarde styf vashou. Hy is die Vader van alle ontferming. Daarom dat ek Romeine 11:33 - 36 vandag opnuut glo en agterna bely: “Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om Sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand, wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen? Is daar iemand, wat vir God ’n guns bewys het sodat Hy iets aan hom moet terugdoen? Van God af kom alles, wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen!” (Die Boodskap)

bottom of page