Een van Jesus se lewende tekste
top of page

Een van Jesus se lewende tekste


In sy nuutste Goeie Nuu nuusbrief, skryf Stephan Joubert oor hoe ons Jesus kan deel maak van ons lewendsteks.
Een van Jesus se lewende tekste

In haar boek: “Oranges are not the only fruit” skryf Jeanette Winterson:

The trick is to turn your own life into something that has meaning for people whose experience is nothing like your own.”

So moet ons as navolgers van die Here vir Hom leef. Ons lewe moet ’n leesbare verhaal wees in die teenwoordigheid van mense, wat dieselfde én anders as onsself leef en glo. So by so is ons elkeen se lewe ’n oop boek. Ander mense lees ons gedurig. En ons lees hulle. Van ons kant af moet ons egter sorg dat ons lewensverhaal deur Christus geskryf word. Soos wat Paulus in 2 Korintiërs 3 sê, moet ons seker maak dat ons lewende briewe van Christus is. Ons moet goeie leesmateriaal uitmaak. Ons lewens moet so ’n boeiende verhaal van Sy betrokkenheid uitbasuin dat ander dit graag wil lees en graag naby aan ons wil wees.


Om ’n goeie, leesbare storie met ons eie lewe te skryf, vra dat Jesus se lig ons altyd moet verlig. En dat Sy liefde ons harte moet sag maak; dat Sy woorde op ons lippe ingegraveer moet word. In kort - die evangelies moet in ons ganse lewe afgedruk wees. Dan kan ons ander mense op verrassende reise na Jesus se mooi wêreld van liefde, geloof, diens, nederigheid en opoffering saamneem. Dan is ons Sy wandelende stories. Dan is dit eintlik nie eers nodig om ellelange instruksies vir ander te gee oor hoe hulle God moet dien nie. Die vorm en inhoud, wat die Here aan ons eie lewe gee, is ons kragtigste getuienis.


Die enigste manier om so ’n wandelende teks vir Jesus te wees, is om te sorg dat Sy Groot Teks elke dag op ons afdruk en weergegee word. Anders gestel, Sy Woord en Sy nabyheid moet op ons lewe oorspoel. Ons moet Sy Woord dag en nag lees en deurdink. Ons moet die Woord gebruik as die lig vir ons pad en die lamp vir ons roete.


Kopieer asseblief God se Woord in jou hart, in jou gedagtes en in jou lewe. Oordink dit en leef dit na. Dan is jy ‘n lewende teks van die Here se goedheid. Dan sal ander mense daardie groot vrede en rustigheid in jou lewe raaksien.


bottom of page