Een dag in die poskantoor…
top of page

Een dag in die poskantoor…


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief oor hoe ons as gelowiges moet optree in tye van swak diens.
Een dag in die poskantoor…

“Die diens is goor,” kla iemand voor my in die ry by die poskantoor. Sy kyk na my in die hoop dat ek haar woorde sal beaam. Maar ek sê niks. Toe sit sy haar hoop op die mense agter my. Uiteindelik kry hulle ‘n kwaai gesprek van soorte aan die gang oor hoe dinge in die land agteruit gaan. Net toe dit lyk of die beswaarde dame ‘n klein paleisrewolusie op die been gebring het, is dit haar beurt by die toonbank. Sy praat kwaai en beduie met haar hande. Toe dit my beurt is, sien ek die dame agter die toonbank is moedeloos.


“Hard day at the office,” sê ek. Sy glimlag verleë. Toe verduidelik sy hulle het te min personeel en sy kan niks hieraan doen nie. Sy probeer haar bes. “Jy doen goed,” sê ek vir haar. “May God bless you,” sê sy. Toe weet ek wie het die Here se hartklop gehad daardie dag in die poskantoor.


En toe sê al die beswaardes wat dit lees: “ja, maar…!” Netsoos wat baie beswaardes nou “ja maar” sê as hulle lees: “black lives matter,” of: “all lives matter.” Dit kos enkelinge soos jy om anders te kyk; anders te praat; anders op te tree. Dit kos geloof om nie uit rou emosies op te tree as slegte dinge gebeur nie. Of om stil te bly as almal woedend is en mekaar uithaal en beledig.


Wees rustig. Wees sober. Wees wys. So sê 1 Petrus 4:7. Petrus skryf dit nadat hy gesê het gelowiges moet weet die Here se koms is naby. Moenie deur elke gety en elke golf heen en weer geskommel word nie. Moenie jou humeur laat opjaag deur elke Facebook plasing of koerantberig nie. Vind jou anker in die Here, dan sal jy weet hoe om reg te bid.

bottom of page