• Siegfried Louw

Drie hallo’s


Drie klein kinders het my in een enkele week met hulle spontaneïteit oorrompel. Dit gebeur in presies dieselfde week waartydens ek moeg en moedeloos voel oor die agterdog tussen verskillende groepe mense in ons land. Ek het begin leer om maar net voor my te kyk en te maak of ek niks en niemand sien nie.


Outjie nommer 1: Ek en ʼn kollega gesels diep sake in ʼn openbare park. Ons gesels strategie en droom drome oor die toekoms. Uit die hoek van my oog gewaar ek die mannetjie vir die eerste keer. Sy sokkerbal kom byna tot by sy skouers. Oupa stap langsaam saam met hom parkie toe. Hulle wissel woorde en ek verstaan niks nie. Ek en die oupa ignoreer mekaar en bepaal onsself by ons eie sake. Meteens stop die sokkerspelertjie. “Hallo!” skree hy en waai met sy pofferhand. Ek, my kollega en Oupa bars gelyk uit van die lag. Die outjie lag nie. Hy wag bedees totdat ons terugwaai. Dan stap hulle verder. Die hele atmosfeer in die parkie verander in ʼn sosiale geleentheid.


Outjie nommer 2: Vanaf ʼn koffiewinkel moet ek haastig by ʼn volgende afspraak uitkom. Ek probeer so vinnig as moontlik tussen verskeie mense deur by die voordeur uitkom, maar ek misgis my met die een gangetjie wat ek kies. ʼn Pa en sy seuntjie kom rustig aangedrentel. Ek koes dat hulle kan verbybeweeg. Net toe ek reken hulle is verby, voel ek hoe ʼn klein handjie met gruwelike taai vingers my hand gryp. “Hallo!” skree die outjie. Hy gryp my hand sommer met sy ander hand ook vas en bekyk my wit vingers. “Hallo,” lag ek terug en sy oë glinster van vreugde. “I am so sorry,” sê sy pa verleë. “Not at all, thank you,” antwoord ek. Hulle stap haastig aan badkamer toe, waarskynlik om daardie taai vingers te gaan was. Die outjie se vrolike groet sorg dat ek sommer vroliker teruggroet na die motorwag se kant toe wanneer ek by my motor kom.


Outjie nommer 3: Na ongeveer vier kilometer se sweet, draf ek vroegoggend luierig huis toe. Die laaste stuk is opdraand. Ek staar voor my uit terwyl ek voortdraf. Vanaf die oorkant van die pad kom ʼn ma met haar seuntjie aangestap, op pad na hulle motor toe. Ek ignoreer hulle en konsentreer op my treë, want my een beenspier is betreklik seer. Die outjie het egter ander planne wanneer hy my gewaar. Hy stop en laat los sy rugsak. Kliphard gil hy dit uit: “Hallo!” Hy probeer met sy hand waai. Dit lyk asof hy ʼn onsigbare lugkraan probeer oopdraai, maar die ding wil nie beweeg nie. “Hallo!” roep ek terug. Die kramp in my beenspier is sommer weg. Onseker loer die ma vir my. “Good morning,” word ek geforseer om te groet. Sy groet vriendelik terug. Die japsnoet, wat lugkrane oopdraai, lyk heel tevrede met homself.


In een week het drie outjies vol vreugde vir my “hallo” geskree. Hulle het my gedwing om op te kyk. Hulle het vir my en hulle ouers of grootouers genoop om mekaar te groet. Hulle laat my wonder of een van die sleutels vir die toekoms nie is om werklik op te let waarna die kinders kyk nie. Die grense waarvan ek so bewus is, bestaan nie eers vir hulle nie.


Matteus 18:1-5 (2020)

1. In daardie tyd het die dissipels na Jesus gekom en gesê: “Wie is nou eintlik die belangrikste in die koninkryk van die hemele?”

2. Hy het toe 'n kindjie nadergeroep, hom tussen hulle laat staan

3. en gesê: “Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie.

4. Wie homself dus gering ag, soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele.

5. En wie een so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”