top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Downton Abbey en die krag van tevredenheid


In sy nuutste My Wêreld nuusbrief, skryf Roedolf Botha oor Downton Abbey en die krag van tevredenheid.
Downton Abbey en die krag van tevredenheid

Downton Abbey is ‘n Britse TV-reeks wat een van die mees gewilde produksies ooit op BBC was. Dit vertel die storie van ‘n ryk aristokratiese familie in vroeë 19de eeu, wat saam met hulle werknemers en diensknegte op hulle groot landgoed woon. Die verhaal speel af in ‘n tyd toe daar nog ‘n redelike onderskeid gemaak is tussen die aristokrasie en diensknegte, alhoewel die karakters hulleself ook in ‘n wêreld bevind waar dinge redelik vinnig aan die verander was.


Regdeur die agt seisoene van hierdie gewilde reeks is daar ‘n sterk kontras tussen wat genoem word upstairs en downstairs. Downstairs is die woonkwartiere van die diensknegte en ook die kombuis, waar die kos voorberei word en alles gereed gemaak word vir diens aan die eienaars en hulle gaste. Die tipe aktiwiteite wat die downstairs-area kenmerk, is dus dinge van byna angstige haas en rondskarrel om gedurig die hele huishouding aan die gang te hou en te behartig.


Upstairs is natuurlik die omgekeerde. Hier verloop alles volgens ‘n rustige lewenstempo en ‘n statige kalmte, waar belangrike gesprekke plaasvind en politieke en ekonomiese sake van die dag deur die aristokrasie bespreek word.


Wat egter opvallend is, is die algemene volwasse lewenshoudings en gesindhede, waarmee beide die mense upstairs sowel as downstairs hulle lewensomstandighede aanvaar en hulle roepings uitvoer. Die BBC maak geen geheim daarvan dat hierdie mense almal binne-in ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing geleef het nie. Geloof is wat aan hierdie mense hulle roeping en lewensvervulling bied.

Die eerste bewys hiervan is hoe ernstig die ryk Lord Grantham sy eie verantwoordelikheid teenoor almal in sy huishouding opneem. Tydens een aandoenlike toneel verduidelik hy aan sy dogter dat hy slegs die rentmeester is van al hierdie rykdom, wat aan hom toevertrou is. Hy toon ‘n baie diep begrip dat die hele huishouding van hom afhanklik is en dat hy op aarde geplaas is om almal op die landgoed, ook die knegte, te dien. Hy bedoel werklik wat hy sê en dis altyd duidelik uit die respek waarmee hy sy mense hanteer en ook ondersteun in tye van nood.


Die tweede bewys van die Christelike raamwerk wat duidelik word, is dat ook die knegte hulle werk as ‘n Goddelike roeping beskou. Die mense downstairs beskou hulle dienswerk geensins as minderwaardig nie, maar verrig elke dag hulle take met trots en menslike waardigheid. Hulle is uitermate tevrede met hulle posisie in die lewe en beskou hulle werk as ‘n voorreg, omdat dit beskou word as ‘n bydrae tot die breër samelewing.


Die reeks is egter geensins idealisties en onrealisties oor die stryd, moeilikheid, politiek en drama, wat hierdie mense elke dag moet hanteer nie. Daar is ook heelwat ontevredenheid, venynigheid en magspel aan die orde van die dag.


Sonder om te wil nostalgies raak oor die verlede, het die reeks my egter herinner aan wat ek mis in vandag se samelewing, waar almal kwaad en ongelukkig skyn te wees. Almal praat groot, baklei, “staan op hulle regte” en saai onmin en verdeeldheid. Selfs baie Jesus-volgelinge is onvergenoeg en word gedurig aanstoot gegee deur wie ook al oor wat ook al. Wat het geword van ons tevredenheid en vrede wat alle verstand te bowe gaan? Dis natuurlik waar dat ons moet baklei vir mense se waardigheid en vir ander goeie sake. Ek mis egter ook vandag ‘n goeie dosis van Paulus. Hy sê:


Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar... (1 Tess. 5:16-18).


En:


Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het... (1 Tim. 6:6).


Navorsing sê dat die gemiddelde persoon vandag baie ryker is sy as sy voorsate en dat ‘n individu meer regte in die huidige samelewing het as in enige ander tyd in die geskiedenis! Tog voel almal steeds kwaad, vies en verontreg.


Mag ons in hierdie Kerstyd onthou dat die Tweede Persoon van die Drie-eenheid, die Kind van Betlehem, al sy regte opgegee het, alles verloor het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. Tog het Hy gesê (Joh. 14:27):


Vrede laat Ek vir julle na; My vrede gee Ek vir julle.


Dalk is dit tyd dat ons ook ons selfgeregtige en ontstelde onvergenoegdheid ruil vir tevredenheid en vrede.

Comentarios


bottom of page