Doen die evangelie “laagdrempelig”
top of page

Doen die evangelie “laagdrempelig”


Onlangs moes ek ’n draai in Nederland maak. Toe gaan loer ek in by vriende, wat onlangs soontoe verhuis het. Hulle leer my toe ‘n mooi Nederlandse woord, wat ek nog nooit gehoor het nie: “laagdrempelig.” Hierdie woord beteken iets soos toeganklik of maklik verstaanbaar. In elk geval, Nederlandse gemeentelede het vir my vriend, wat self nou ook ‘n leraar daar is, vertel dat sy preke altyd “laagdrempelig” moet wees. Die teenoorgestelde hiervan is sekerlik dan hoogdrawend. Daarin blink te veel van ons uit wat ons geloofstaal en ons preke betref.


Geleerde taal en ingewikkelde woorde help niemand nie … uitgediende kerktaal nog minder! Aan die ander kant moet ons egter ook nie verval in oppervlakkige praatjies en in soetsappige opmerkings oor die Here nie. Dit is ewe onbehulpsaam. Ons leef ons geloof mooi en stylvol uit as ons duidelik en ook op maklik verstaanbare maniere oor die Here praat. Ons is nooit dweperig, ingewikkeld, of hipervroom nie. Ook is onsnie lewensvreemd nie. Normale spreektaal is ons soort taal. Egtheid is ons voltydse leefwyse en ons woorde volg agterna. Dan leef en praat ons op die regte manier laagdrempelig. Dan is ons verstaanbaar genoeg.

bottom of page