Doen die Bybel in drie sinne
top of page

Doen die Bybel in drie sinne


Ek kan die hele Ou Testament in drie sinne vertel, sê iemand vir Len Sweet, ’n Amerikaanse teoloog en skrywer. Toe doen hy dit:

“Ander volke het ons probeer doodmaak.” “Deur die Here se goedheid het ons oorleef.” “Kom ons eet!”

Toe sê die persoon vir Len hy kan ook die Nuwe Testament in drie sinne opsom:

God sê: Ek het jou lief in Christus.” “Ek vergewe jou.” “Kom ons eet!”

Kos speel ’n groot rol in ons geloof. Jesus het nooit ’n kans laat verbygaan om saam met vreemde mense te eet nie. Jean LeClerc sê juis:

“Jesus ate good food with bad people!”

Rondom etenstafels het Hy sondaars met oop arms ontvang en hulle in die koninkryk van God ingeëet. Vra maar vir Levi in Lukas 5, of vir die sondige vrou van Lukas 7. Tog het Jesus se eetgewoontes die godsdienstige elite ontstel. Hulle kon dit nie verdra dat Hy saam met onrein mense eet nie. In elk geval, etenstafels is kosbare plekke om koninkryksdiens te doen. Jesus was bereid om saam met enigiemand te eet. Hoekom doen Sy volgelinge dit nie meer nie? Hoekom volg ons nie Jesus se instruksies in Lukas 14 deur ’n slag die armes, kreupeles, lammes en blindes te bederf met koningskos nie? Of om saam met twyfelaars, nie-gelowiges en vergetenes brood te breek nie? Hoekom is kos en kuiers nie deel van ons planne om die wêreld met goeie nuus te deurtrek nie? Jesus was bereid om ’n hele dag lank saam met die twyfelende egpaar na Emmaus toe terug te loop, net om hulle oë rondom ’n eenvoudige ete oop te maak (Lukas 24:13-35). Kom ons leer by ons Heer dat Lewe rondom etenstafels gebeur. Maar dan moet Jesus ons Eregas en Gasheer wees. Dan moet Hy mense op Sy eie maniere nadertrek met Sy genade.

bottom of page