Dit kos guts om alleen te staan
top of page

Dit kos guts om alleen te staan


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Heilige Gees artikel oor die guts wat dit kos om alleen te staan.
Dit kos guts om alleen te staan

Petrus se lewe na Pinksterdag was radikaal anders. Hy het dapper in die openbaar opgestaan om oor die Here Jesus te getuig, selfs voor die Joodse Raad! In die teenwoordigheid van al die Joodse leiers vertel hy van Jesus wat gesterf het, maar ook opgewek is. Petrus sê trouens dat hy nie anders kan as om te doen wat hy doen nie, omdat hy meer gehoorsaam aan God as aan mense moet wees. Ware woorde! Ongelukkig leef vele kerklikes hierdie woorde van vers 29 nie elke dag uit nie, want dan sou die wêreld mos ‘n totaal ander plek gewees het.

Mense, wat opstaan vir die Here se waarheid, staan dikwels alleen. Baie kerklikes praat agteraf en kla oor al die sonde in die wêreld, maar dis al. Wanneer daar gestaan én geval moet word vir die Waarheid, is dit meestal net enkelinge wat dit doen. Nee, ek bedoel nie ons moet moeilikheid soek of met ‘n martelaarshouding leef nie. Dit gaan slegs daaroor dat ons almal soms voor ‘n kruispad in ons lewe te staan kom, waar ons of die Here moet bely of ontrou aan Hom gaan wees. Partykeer is daar geen middelgrond nie. Dan is dit links of regs, God se waarheid of die leuen! In sulke tye is ons Geesvervuldheid of ons eie gebrek aan Sy krag duidelik! Dink daarom mooi, voordat jy vir die Gees vra om jou te vervul, want Hy gaan jou dalk die keuse van jou lewe laat neem. 

Gebed:

Christus, leer my om U te bely voor mense. Amen.

bottom of page