top of page
Writer's pictureHelena Smith

Dit het tyd geword om te ontrommel


Ons kinders is almal uit die huis en binne ‘n paar jaar is dit tyd vir aftrede. Ek en my man het besluit dat dit tyd is om kleiner te gaan. Ons wil graag verhuis na ‘n meenthuis. Die gedagte maak my effens benoud, want ons sal van baie goed ontslae moet raak. Hier sal ‘n grootskaalse “decluttering” moet plaasvind. As ‘n mens nog jou eie skoolrapporte van ongeveer 50 jaar gelede opgaar, weet jy dat daar baie ontrommeling sal moet gebeur!

Ons woon in ‘n samelewing met ‘n verbruikersmentaliteit. ‘n Mens word aangemoedig om meer en meer goed te hê. Dalk is dit ‘n goeie plan om eenvoudiger te lewe. ‘n Mens kan eintlik met verstommend min oor die weg kom.


Terwyl ek so na al die “skatte” kyk wat ons deur die jare versamel het, besef ek dat ‘n mens ook soms in jou lewe nie-materiële dinge versamel, wat totaal onnodig is. Ek voel skuldig toe ek weer in Matteus 6 lees dat ‘n mens vir jou skatte in die hemel moet bymekaarmaak.


Dinge wat vir my belangrik is, vertel baie van my. My familie, my huwelik, vriendskap en vakansie is vir my baie belangrik. Dit is nie noodwendig slegte dinge nie, maar as dit ‘n mens se lewe begin oorheers, raak dit ‘n probleem. Dan kan daar ook dinge in ‘n mens se lewe wees wat beslis nie hemelse skatte is nie. ‘n Huis en sy binnegoed, waaraan jy te verknog raak, die belangrikheid om die beste motor te hê en om die duurste, beste uitrustings te dra, kan jou aandag van God aflei. Die meeste van ons werk baie hard, maar as jou werk jou verhouding met God en jou gesin benadeel, moet jy gevaarligte sien flits. Dalk steel die sosiale media, jou sosiale lewe en ‘n beheptheid met fisiese oefening baie van jou tyd.


Begrawe ek dalk vir God onder al daardie skatte? Het ek dalk skatte opgegaar wat my beeld van God vertroebel? Mag ons belangrikste voorneme vir 2022 wees om ontslae dit raak van dit, wat tyd steel van ons verhouding met God, en mag ons opnuut fokus op ‘n verhouding met God. Mag ons smag na daardie skatte waarvan ons in Jesaja 45:3 lees: “Ek gee vir jou skatte wat weggesteek is in die donker, rykdomme opgesluit in geheime plekke.”

Comments


bottom of page