Dit gaan oor Jesus, nie oor ons nie
top of page

Dit gaan oor Jesus, nie oor ons nie


Die feesseisoen het reeds ’n paar weke gelede afgeskop, maar tans versnel dinge behoorlik. Tafels moet in gereedheid gebring word vir die groot Kersfeesete. Kos moet voorberei word en geskenke moet toegedraai word. Dis geen wonder dat hierdie dae vir party mense ’n spanningsvolle tyd is nie. Ma’s moet van vroeg tot laat vir familie en vriende regstaan; pa’s moet braai dat dit klap; kinders moet help huis skoonmaak… Miskien is dit nodig dat ons almal vandag net een tree terugstaan en behoorlik asem skep. Kom ons onthou net weer dit is Christus se fees, nie ons s’n nie. Ons moet ons fokus verskuif na Hom, oor wie dit nog altyd gaan. Dan neem hierdie feestyd ’n ander formaat aan. Dan kan onsself sommer ook ’n bietjie aan Jesus se voete tot rus kom. Dan hoef ons nie alweer die ete van die jaar te kook, of die beste tafelversierings, of die mooiste liggies in die buurt te hê nie.


Kersfeestyd vertel opnuut vir ons Jesus is in ons midde. Sy aankoms, soos wat Matteus 1 en Lukas 2 dit beskryf, verkondig die teenwoordigheid van God hier by ons. Jesus praat Immanuel-taal. Nog mooier: Hyself ís Immanuel. Daarom is Kersfees so ’n vrolike tyd in Sy teenwoordigheid. Dit is die tyd om geskenke na Hom, die Koning van die hemel, te bring. Ons beste geskenke vir Hom is juis ons eie lof en aanbidding. Ons vier fees, omdat Jesus ons Vredeskoning is. Sy aankoms het nuwe lewe vir ons almal gebring, wat deel is van God se volk. Jesus is God met ons. Daarom wens ons graag in hierdie dae vir mekaar ’n geseënde Kersfees toe. Ons weet immers: dit gaan oor Jesus, nie oor ons nie!

bottom of page