Dit gaan nie oor die krag van gebed nie; dit gaan oor God
top of page

Dit gaan nie oor die krag van gebed nie; dit gaan oor God


“Gebed het krag.”

Baie mense sê dit. Tog is dit nie die eintlike punt van gebed nie. As gebed bloot net krag sou hê, dan verskuif dit die fokus na onsself, wat hierdie krag gedurig moet ontsluit. Dan handel die “krag” van gebed eintlik net oor die effek wat gebed hier aan ons kant van die draad moet hê. Kort voor lank verskraal ons God dan tot die Een wat moet regstaan om ons gebede te verhoor. (Terloops, dink net hoe ongelukkig sal jyself wees as jou kinders gedurig vir almal vertel hulle het mag oor jou, omdat hulle jou so ver kry om vir hulle te gee wat hulle graag wil hê. Dan sal jy begin dink dat hulle jou net tot hulle eie voordeel probeer gebruik om dinge vir hulleself te kry.)


Wanneer ons opreg met God praat, hoef ons nie te wonder of ons gebede krag het nie. Ons is immers nie verbruikers van God se krag, soos wat ons verbruikers van Eskom se krag is (wanneer hulle dit wel die slag lewer!) nie. Gebed gaan oor God. Egte gebed is om leeggestroop van onsself voor God neer te val. Dit is om al ons hoop op die Here te plaas. Sulke gebede is leeg en vol tegelyk – leeg van onsself en vol van God se grootheid en eer. Ons leegheid van onsself is die geheim is tot die ervaring van God se nabyheid. Gebed is om leeggestroop van onsself te wees en om alles van Christus te verwag. Dan ontdek ons al hoe meer dat God die enigste Een is wat krag het. Ons paar gebedswoordjies kan niks op eie stoom in Sy teenwoordigheid regkry nie. Maar ons gebedswoorde, wat hand aan hand loop met harte wat gelowig op God gerig is, is iets totaal anders. Sulke gebede het die potensiaal om hemel en aarde te vul met lof, vreugde, dankbaarheid en genade. En om uitkoms te bring in tye van nood en groot rampe. God luister na elke gebed wat diep afhanklik en kinderlik opreg na Hom toe kom. Hy hoor alle gebede, wat gelowig volgens Sy wil gebid word. Bid so!

bottom of page