Dink anders!
top of page

Dink anders!


In sy nuutste Goeie Nuus skryf Stephan Joubert oor hoe ons anders kan dink.
Dink anders!
“Ek moenie weer lelik dink nie.”

Hoeveel keer het sulke gedagtes nie al deur jou kop gemaal nie? Jy besluit jy wil nooit weer aan iets dink wat lei tot sonde nie. Jy probeer hard om dit te vermy. Maar voordat jy jouself kan kry, het jy al weer daaraan gedink. Of dit gedoen. Hoekom faal jy gedurig as jy besluit om nooit weer te dink aan iets wat verkeerd is nie, maar nogtans daaraan dink? En weer en weer ... ? Die rede is interessant. Jou brein is eintlik nie gemaak om agterstevoor te dink nie. Dit kan nie effektief met negatiewe stellings werk nie. Wanneer jy dus vir jouself iets sê, soos: “Ek mag nooit weer aan drank dink nie,” of: “Ek moet nooit weer aan verkeerde sondige gedagtes toegee nie,” dan draai jou brein hierdie stellings eintlik om en gee nog meer aandag hieraan. Dan herinner jou brein jou om dubbel soveel daaraan te dink.


Die oplossing lê op ’n ander vlak. Oor die algemeen beskou, moet ons weet ons kop werk met ’n “use it or lose it”-sisteem. Breinroetes, wat nie gebruik word nie, verval in onbruik. Hulle atrofeer. Om egter heeltyd op negatiewe dinge te fokus wat ons wil laat staan, is egter om vir ons kop ’n aanduiding dit moet op die voorgrond wees in ons lewe. Die beter roete is om nie teen negatiewe gedagtes te veg nie, maar om eerder Kolossense 3:1-2 se pad te volg, deur ons gedagtes met nuwe inhoud te vul. Ons moet ons gedagtes op Christus rig. Ons herfokus ons aandag op Christus. Ons fokus ons interne wêreld op die krag, liefde en vergifnis van Christus. Op hierdie manier maak ons ons denke vol met die Here se grootheid, en nie met ons eie stryd teen negatiewe gedagtes nie. Dan verval daardie goor denkpatrone in ons kop spoedig in onbruik. Ons geloofstryd is nie soseer om téén sondige gedagtes te stry nie. Ons geloofstryd is om ons denke aanhoudend na Christus te verskuif. Ons laat toe dat Hy ons gedagtes vervul. Dan leef ons op die pad van geestelike vryheid.


bottom of page