Diep-luister leierskap in ‘n toon-dowe wêreld
top of page

Diep-luister leierskap in ‘n toon-dowe wêreld


Ivor Swartz en Roedolf Botha skryf in hulle nuutste Leierskap Nuusbrief oor die belangrikheid van luister in 'n toon-dowe wêreld
Diep-luister leierskap in ‘n toon-dowe wêreld

Diep-Luister is een van die mees kritieke vaardighede wat leiers moet hê, en tog, om verskillende redes, het baie leiers dit eenvoudig nie. Hier praat ons dus nie net van luister omdat ons moet nie. Maar luister omdat ons ten volle teenwoordig is, wil leer, en nie net advies en wyshede wil uitdeel nie. Ek lees die ander dag ‘n twiet wat sê:

“Some people don’t want to hear your opinion; they want to hear their opinion coming out of your mouth.”

Dit is so bietjie van ‘n tong-in-die-kies definisie van om “toon-doof” te wees in ons huidige kulturele klimaat. Maar ek kan nie méér met dit saamstem nie, want ek vang gereeld myself dit doen in gesprekke. Ek stap gereeld in ‘n gesprek in sonder om die kamer te lees, sonder om ‘n oomblik te vat om bewus te word wie om die tafel sit, hoe daardie mense aanmekaar gesit is, of dat hulle met emosies, gedagtes, en opinies sit wat moontlik baie sterk van myne kan verskil.


Wat is toon-doof leierskap?


Sommige van ons is musikaal toon-doof omdat ons nie die verskil tussen musieknote kan onderskei nie. Maar ons is ook dikwels (onbewustelik) toon-doof wanneer dit by ons leierskap kom. Wat beteken dit om toon-doof in leierskap te wees? Dit beteken om nie die genoegsame vermoë te hê om met sensitiwiteit om te gaan met die waarhede, realiteite, en oortuigings wat met ons s’n verskil nie. En net soos mense wat musikaal toon-doof is, oortuig is daarvan dat hulle die note reg slaan, al sê die mense om hulle iets anders (kyk maar na Idols se Wooden Mic-optredes), so is toon-dowe leierskap ook die tipe wat nie in staat is om buite hulle eie narratief te staan en regtig probeer om ‘n probleem of uitdaging vanuit ander se oë te sien nie. Soos Stephan Graves dit stel:

“Let me put it clearly: A tone-deaf leader is one who has grown deaf to hearing the opinions, criticism, and ideas of others.”


Toon-doof opinies


Ek het ook ‘n vriend wie, elke keer wanneer jy van hom verskil oor iets, sal sê, “maar jy hoor nie wat ek sê nie.” Ek het al baie gewonder of dit ek is wat nie hoor wat hy sê nie, en of dit hy is wat nie hoor dat ek bloot net van hom verskil nie. Ek maak daardie fout gereeld. Die kuns lê daarin om te probeer diep luister na wat gesê word; in woord, liggaamstaal, oë; en nie nét luister om die gesprek aan die gang te hou, of om my punt oor te kry so vinnig, hard, en duidelik as moontlik nie.


Die Boodskap vertaling vat Jakobus se woorde oor hierdie nogal goed raak:

“Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ‘n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening - (Jak. 1:19).

Dit kon net sowel gelees het, “Liewe leiers, julle moet ander mense die vrymoedigheid gee om hulle opinies te deel, asook die vrymoedigheid om van jou te verskil.” Hoe baie van ons as leiers is só toon-doof dat nét ons opinies, ons gedagtes, wat ons sien en lees, belangrik is, voorgestel word, en uitgevoer word? Hoeveel skade doen toon-dowe leiers nie moontlik aan onkundige en onskuldige mense nie? Ons sien dit veral op politiese vlakke, maar soms ook nader aan ons - in die kerk.


Deep listening


Jessica Orkin is die president van SYPartners, 'n konsultasie firma wat organisasies help om in meer lewendiger weergawes van hulself te transformeer. Sy beweer dat die teenkanting vir toon-doofheid in leierskap, “the practice of deep listening” bevat. Sy sê dit is een van die vaardighede wat in die toekoms meer en meer in aanvraag sal word en dat geen leier daarsonder kan wees nie. Vir lank het leiers “gehoor” wat mense sê, maar nie diep geluister na wat hulle sê of NIE sê nie. Ek het uit die hope definisies van wat diep-luister is, my eie een saamgestel:

“Die praktyk van diep luister beteken dat dit nie saak maak hoe duidelik of onduidelik die storieverteller is nie, ek sal nie stellings en aannames maak voordat ek genoeg tyd laat beweeg het tussen wat hulle sê en wat ek gedink het ek gehoor het nie”.

‘n Mens sien nogal iets van dit uit Jesus se hantering van die vrou wat op die daad van owerspel betrap is, in Johannes 8. Jesus kon, soos die res, dadelik met die feite op die tafel gewerk het, of dadelik volgens wet opgetree het, of dadelik in probleem-oplossing gegaan het. Hy kon in die Fariseërs en skrifkenners se strik getrap het, maar dit lyk vir my Hy het iets geweet van diep-luister toe Hy grond toe buk sonder om dadelik te antwoord. Dis asof dit makliker is om antwoorde uit te deel, as om diep te luister na ‘n persoon- al stem ons nie met hulle saam nie. Ons gaan dadelik oor in, “ek hoor wat jy sê, maar...” Daardie hoor en maar is die teenoorgestelde van diep-luister.


Beginsels van diep-luister


Volgens die Universiteit van Minnesota se Center For Spirituality and Healing is daar 4 belangrike beginsels van diep-luister wat ons kan help in ons verhoudings en in ons gesprekke met ons kollegas, ons vriende, en met vreemdelinge.

  • Luister om te wil leer.

  • Luister vir begrip eerder as om te moet saam stem of om te wil verskil.

  • Vra “clarifying” vrae.

Die toppunt van arrogansie en toon-doofheid is baie keer in die dat ons dink iemand onder ons, jonger as ons, van ‘n laer rang as ons, kan ons niks leer nie. Dus sluit ons af, en maak ons toe, om enigiets van hulle af te leer. Wanneer ons diep-luister wys dit vir die persoon ons respekteer hulle genoeg dat ons ten volle teenwoordig is by hulle en wat hulle te sê het- al verskil ons ook van hulle. Hoe sal ons gesprekke op sosiale media lyk, met hierdie beginsels in gedagte? Hoe sal ons gesprekke oor rasse-diversiteit, oor teologie, oor saamwerk, oor die lewe lyk, wanneer ons probeer om hierdie diep-luister beginsels deel van ons lewens te maak?

bottom of page