Die Trooster / Helper is by ons
top of page

Die Trooster / Helper is by ons


Lees Johannes 14:16


Bouers werk gewoonlik onder groot druk. Skaars is een gebou voltooi, dan verskuif hulle na ’n nuwe bouperseel om weer van voor af te begin. Die Heilige Gees is ook aan die bou in al Sy kinders se lewens. Die goeie nuus is dat Sy bouprogram in ons lewe nooit tot ’n einde kom nie. Hy verskuif nooit uit ons lewe na ‘n ander perseel toe nie. Ons is onder lewenslange aanbouing en herskepping van die Gees. Boonop gebruik Hy die heel beste boumateriaal. As die hemelse Meesterbouer bou die Gees net tempels, waarin God met vrymoedigheid kan woon.


Die Heilige Gees plaas Homself nooit op die voorgrond nie. Sy taak, volgens Johannes 14, is om in Jesus se plek ‘n Voorspraak by ons te wees. Die Griekse woord vir voorspraak kan op ‘n hele paar ander maniere vertaal word, soos helper, advokaat, trooster, of spesiale raadgewer. Dit alles verwoord die grootheid en grootsheid van die Gees se werk in ons lewens. Hy is Jesus se spesiale gesant by ons. Hy verteenwoordig die hemel hier op aarde. Meer korrek gesê, die Gees verteenwoordig Jesus by al Sy volgelinge. Hy bring Hom elke dag baie naby aan ons. Die Gees is God, wat op ‘n unieke manier met ons is. Hy is ons elkeen se trane-afdroër, wondeverbinder, raadgewer, persoonlike beskermer, leidsman en praktiese helper!


Gebed:

Dankie, Trooster en Helper, dat U my in die volle waarheid van Christus lei. Amen.

bottom of page