Die spasie tussen jou ore
top of page

Die spasie tussen jou ore


Lees Roedolf Botha se nuutste My Wêreld nuusbrief "Die spasie tussen jou ore"
Die spasie tussen jou ore

Ons almal leef in twee wêrelde. Aan die een kant is daar ons eie interne wêreld met al ons gedagtes, gevoelens en emosies. Aan die ander kant is daar die eksterne wêreld, wat gevul is met mense, sosiale interaksies, virusse, mense wat plunder en selfs die dood. Natuurlik is daar die goeie ook. Ons menslike breine kies egter om die negatiewe as meer “realisties” te bestempel en daarom fokus ons meer daarop. In die week van die plundery te midde van die chaos, wat die derde vlaag van Covid saai, het ek vir baie mense gevra wat die hoof emosies was wat by hulle geheers het. Mense het baie spontaan reageer met onder andere opmerkings soos:


“Ek voel uiters emosioneel”, “dis moeilike tye”, “ek wil nie meer televisie kyk nie”, “die lelikste het in my uitgekom”, “ek is bang”, “ek bid moeilik”, “ek is bevrees”, “ek is deurmekaar en verward”, “ek voel afgestomp”, “ek leef gedurig in antisipasie van nog slegte nuus”, “ek voel skuldig”, “ek voel weerloos tussen êrens en nêrens”, “ek is moeg, uitgeput en gedreineer”, “ek voel magteloos en voel dat ek niks kan doen nie”, keelvol vir alles”, “ek ly aan besluitnemingsuitputting”.


Hierdie woorde is nie geuiter deur ongelowiges of jong Christene nie, maar deur toegewyde gelowiges, wat gewoonlik steunpilare in ons gemeente is. Dit het my diep geraak en ek kon nie anders as om te dink hoe belangrik dit is om te onthou wat die Bybel ons oor ons denke en gevoelens leer nie. Ek onthou hoe Spreuke 4:23 sê: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. In verband hiermee het iemand een keer vir die voormalige tenniskampioen, Martina Navratilova, gevra hoe sy dit regkry om steeds suksesvol te speel op “n ouderdom van selfs drie en veertig jaar. Haar antwoord was:


The ball doesn’t know how old I am. You need to stop yourself from stopping yourself. Every game in life is actually played on a 6-inch ground – the space between your two ears. We don’t live in bungalows, duplexes, or flats. We live in our mind which is an unlimited area. Life is great when things are sorted and uncluttered there. Keeping the mind messy with hatred growing on the table, regrets piling up in the corner, expectations boiling in the kitchen, secrets stuffed under the carpet, and worries littered everywhere, ruin this real home. The key factor to performing well in life and in every arena is the ability to control the quality and quantity of your “internal dialogue”. Performance is potential minus internal interference. Live in peace, not in pieces.


Petrus skryf aan ‘n gehoor in die eerste eeu na Christus, wat al vir lank baie swaarkry. Hy sê onder andere vir hulle (1 Petrus 1:13):


Wees daarom verstandelik wakker en nugter...


Dit beteken:


Wees volkome eerlik voor die Here en deel jou rou emosies en gevoelens met Hom. Hy kan dit hanteer en is geensins geïntimideer deur die mees toksiese braaksels, wat uit jou binneste mag vloei nie.


Behou redelikheid en perspektief. Plaas jouself gedurig in ander mense se skoene. Oefen jouself om vreugdevol te wees deur jou gedagtes te kondisioneer om te fokus op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees. (Fil 4:8)


Oefen om te vergewe. Vergifnis kom nie altyd maklik nie. Dis egter waar van alle waardevolle dinge. ‘n Vredevolle persoon is nie iemand wat geen vyande het nie. Dis iemand wat dit uiteindelik in sy hart en innerlike wêreld regkry om in vrede met daardie vyande te leef. Oefen Jesus se woorde: Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.


Dink eerlik en realisties na oor die dood, maak vrede met jou eie, onthou dat jy ook sterflik is en oefen jouself om die dood nie te vrees nie. Paulus het dit reggekry. Ons kan ook.


Live in peace, not in pieces.

bottom of page