top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Die regte ding om te doen, is…


  • Die regte ding om te doen … wanneer jy by ‘n vurk in die pad beland en jy nie weet of jy links of regs moet draai nie, is om altyd die moeiliker roete aan te durf. Die moeiliker pad vra altyd groter selfverloëning en opoffering van jou. Dit is Jesus se pad. Hyself het in Markus 10:45 gesê dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Hy is ons voorbeeld. Die moeiliker pad gaan jou karakter voor God vorm. Dit gaan jou laat groei in geloofsvertroue en volharding. ‘n Langer pad soos hierdie is die beter pad. Kies altyd die regte roete, wat meer selfverloëning vra.

  • Die regte ding om te doen … wanneer jy wonder oor God se wil, is om nie die Bybel te forseer om te sê wat jy graag wil hoor nie. Vra jouself heel eerste af watter keuses, wat jy maak, sal God die meeste verheerlik. Vra jouself af watter keuses sal ander mense bokant jouself bevoordeel. As jy vir Christus en ander mense eerste stel bokant jouself, is jy reeds binne Sy wil. Dan sal die Here jou op Sy eie maniere op die regte pad lei. Dan sal Sy wil geskied

  • Die regte ding om te doen … wanneer dit voel of daar ’n besettoon vanaf die hemel is en jy nie kan bid nie, is om tot rus aan God se voete te kom. Wees net daar by Hom. Wag net op Hom. Doen wat Habakuk 2:20 sê en wees stil voor God. Weet dat Hy in Sy heilige tempel is. Hy weet in elk geval baie beter as jyself wat jy nodig het. Hy sal op Sy eie maniere jou gebede verhoor. Hy sal uitkoms gee. Die Gees sal vir jou intree en jou diepste behoeftes aan God bekend maak, soos wat Romeine 8 leer.

Comments


bottom of page