Die oersonde wat ons vrede steel
top of page

Die oersonde wat ons vrede steel


Lees Roedolf Botha se nuutste My Wêreld nuusbrief, "Die oersonde, wat ons vrede steel"
Die oersonde, wat ons vrede steel

‘n Bietjie vrees kan goed wees. ‘n Klein dosis tydige vrees kan ons help om in ‘n gevaarlike omgewing op die uitkyk te wees vir gevaar en uiteindelik te oorleef. Dis egter vandag asof vrees so volop is, dat dit ‘n groter pandemie as Covid geword het! Vrees is vandag oral te vinde. Almal het die een of ander vorm van vrees. Ons vrees moontlike dinge, wat kan gebeur. Ons vrees, omdat sommige dinge moontlik nie gaan gebeur nie. Ons vrees misdaad. Ons vrees die virus. Ons vrees ‘n onseker toekoms. Ons vrees die dood, veral nou dat Covid soveel mense se lewens geëis het.


Hierdie soort vrees is vernietigend. Dit steel ons vrede. Dit beroof ons van perspektief. Breinwetenskap sê vir ons dat wanneer ‘n mens te veel vrees, jou brein later die vermoë kan verloor om enigsins nugter of objektief oor negatiewe emosies te kan oordeel. Ons verloor dan die vermoë om logies te dink en probleme te kan oplos. Wanneer dít gebeur, vrees ons op ‘n byna konstante basis alles sonder ophou.


Maar is daar is een soort vrees, wat veral digitaal aangehits of gestimuleer word en dit is FOMO – Fear Of Missing Out. Ons is tog so bang ons mis iets - geleenthede, flieks, nuwe kursusse, nuwe inligting, wat ons lewens kastig onherroeplik kan verbeter, die advies van selfaangestelde ghoeroes, die kitswysheid van enige iemand met ‘n opinie, foefies. Ons raak skoon angstig. Die angstigheid om nie iets te mis nie, lei ons aandag só af dat ons aan min aandag skenk aan wat wel die moeite werd is.

Ons moet egter onthou dat die groot oersoende, die eerste aardskuddende sonde, wat die wêreld in ‘n gans nuwe rigting gestuur het, ook FOMO was! Ek verwys spesifiek na Adam en Eva. Die slang het gevra of God dan werklik gesê het hulle mag van geen boom eet nie. Hulle sê nee hy het net beveel dat hulle nie van één boom mag eet nie.


Die slang antwoord (Gen 3:4):


... maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.


Dis die eeue-oue leuen, waarmee die slang vandag nog mense mislei: Pasop, julle gaan iets mis! Julle gaan dit misloop om soos God te wees. Julle gaan die lewe misloop. Wanneer ons dan besig raak om alles na te jaag wat ons kan misloop, mis ons juis die belangrikste: Ons loop God mis; ons verhoudings met mense rondom ons, asook die stilte en vrede, wat sou maak dat ons God beleef.


Jesus vra dan self wat help dit dat ons alles wen maar die lewe self misloop (Matt 16:26). Jesus self is die lewe. Ons moet dus kies of ons, aan die een kant, beheer gaan word deur FOMO en alles najaag, wat oor ons pad kom, of bereid gaan wees om baie dinge te mis sodat ons Jesus kan wen en die lewe kan verkry!

bottom of page