top of page

Die krag van leiers, wat wérklik omgee


Wanneer daar mooi na die dialoog in sommige flieks geluister word, dan vind ‘n mens heel dikwels dat daar uitmuntende leierskaplesse in sekere tonele te vinde is. In die fliek, 300, is daar so ‘n dialoog. Dit vind plaas tussen koning Leonidas van Sparta en koning Ahasferos (Eng. Xerxes) van Persië, die magtige ryk, wat Sparta en die ganse Griekeland in die vyfde eeu voor Christus bedreig het. Vir ‘n paar dae het die dapper drie honderd Spartaanse soldate die Persiese Ryk aangedurf en op ‘n afstand in die area van Thermopylae gehou. Die Spartane het geweet hulle sou uiteindelik te sterwe kom, maar het onverskrokke geweier om oor te gee. In daardie paar dae word daar baie Persiese lewens geëis, terwyl die Spartaanse leer maar geringe skade gely het.


In ‘n gesprek poog Ahasferos hard om vir Leonidas van opinie te laat verander en om oor te gee. Eers praat hy mooi. Dan probeer hy redelike argumente. Laastens dreig hy. Hy wys Leonidas daarop dat hy, Ahasferos, alreeds baie van sy eie manne laat sterf het. Vir hom is dit maar geringe skade. Indien hy bereid is om alreeds soveel van sy eie soldate te laat sterf, dink net wat sal hy maak met die Spartane as húlle sy gevangenes word! Hy sê:


“Imagine what fate awaits my enemies when I would gladly sacrifice my own men.”

Hierop antwoord Leonidas eenvoudig met die volgende:


“And I will gladly give my own life for anyone of mine.”

Ek dink hierdie twee uiteenlopende gesindhede verteenwoordig twee groepe leiers, met elk wyd uiteenlopende waardes. Die een sal enige van sy eie mense offer op die altaar van mag en sukses, alhoewel sulke leiers dit nie noodwendig so prontuit sal erken nie. Die ander sal sy eie mense se voete was en sy eie tyd, geld en energie opoffer om die beste uit sy eie mense te haal.


In die eerste geval gebruik die leier mag en vrees. In die tweede gebruik hy liefde en respek. Ek wens dat ‘n mens sou kon sê dat Christen-leiers nie in die eerste kategorie sal val nie. Ons weet egter dat die realiteit vir ons anders wys. Te veel Jesus-volgelinge in leiersposisies het al in die lokval van magsbestuur en selfsugtige eie belang geval.


Ek dink egter aan hoe Paulus die gemeente van Thessalonika herinner het aan die leierskapstyl, wat hy gevolg het toe hy by hulle was. Hy sê:


Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle of ander is, al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle, soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel. So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het hulle lief gekry. (1 Tess 1:6-8)


Wat ‘n leier moes Paulus nie gewees het nie! Hy het gelei met sy hart toegewyd en vasgemaak aan sy eie mense. Dis ook hoe Jesus gelei het, tot aan die kruis. Vir ons. Dis hoe ons moet lei. Om te kan sê:


“And I will gladly give my own life for anyone of mine.”

Comments


bottom of page