Die Here los die ligte aan
top of page

Die Here los die ligte aan


“Ons los die ligte aan vir jou.” Onlangs het ek ‘n kolom, wat ek behartig in die Beeld, vertel hoe my ouers graag hierdie woord vir my gesê het as ek in die aand uitgegaan het. Trouens, dit was ’n normale opmerking in my ouerhuis. Hulle het dit ook gedoen. Elke slag wanneer ek tuis gekom het, was die ligte aan. Later het my vrou en ek dit ook spontaan vir ons kinders gesê en dit gedoen. My vrou sê dit nou nog vir my as ek in die aande iewers moet gaan praat.


Nou die aand toe ek tuiskom en die voordeur se lig sien brand, tref die impak van hierdie woord my van vooraf: “Ek los die ligte vir jou aan.” In een sin vertel dit alles waaroor liefde en deernis vir mekaar gaan. In een sin illustreer dit konkreet wat omgee beteken. Ligte, wat skyn in die donker, is verwelkomend. Toe dink ek by myself: dit is presies wat die Here ook vir ons as sy kinders doen. Hy los die ligte vir ons aan. Hy het die ligte lankal aangeskakel. Nog meer: Christus self is die lig vir die wêreld. Hy sê in Johannes 8:12: “Ek is die lig van die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis hoef te lewe nie, maar sal vir ewig in die lig lewe.” Hy sorg dat ons nooit in die donker verdwaal nie. Hy sal die hemelse ligte aanlos. Hy sal dit laat skyn totdat ons eendag veilig daar by Hom tuis kom. Ons sal nooit voor dooiemansdeur opdaag nie. Jy en ek, as navolgers van Christus, is veilig onderweg na ’n wonderlike eindbestemming. Hoor dus weer: die Here los altyd die ligte vir ons aan.

bottom of page