Die geheime taak van ‘n leier
top of page

Die geheime taak van ‘n leier


In sy nuutste Leier nuusbrief skryf Roedolf Botha oor die geheime taak van 'n leier
Die geheime taak van 'n leier

In die vele boeke oor leierskap word daar allerhande take en vaardighede van leiers beskryf. Daar word gepraat oor transformasie-leierskap, die passie van ‘n leier, emosionele intelligensie, verhoudingsvaardighede, tegniese vermoëns, strategiese insig, wysheid en nog baie meer. Daar is egter een ding wat ek nog bitter min gehoor het en tog behoort dit myns insiens deel van die kern van ‘n leier se roeping te wees.


Hierdie tema vind ons in die woorde van die bekende besigheidsghoeroe, Peter Drucker. Hy het gesê:


Culture eats strategy for breakfast.

Vir leiers wat hierdie woorde reg verstaan, leef en toepas, bring dit sukses, vooruitgang en groot vrug. Met hierdie frase het Drucker bedoel dat kultuur een van die mees bepalende kragte is om mee rekening te hou, wanneer dit kom by leierskap.


Die sukses van ‘n maatskappy word nie noodwendig bepaal deur die uitkomste van vergaderings of die gawes van die leiers of personeel nie, of selfs die kwaliteit van die produk nie. In die gemeente gaan dit nie oor hoe oulik die leraar is of goed hy preek, of hoe begaafd die musiekspan is nie. Dit gaan oor kultuur. Kultuur is die ongeskrewe gewoontes, idees of sosiale gedrag, die kwaliteit van die verhoudings, wat heers onder die mense. Elke plek, organisasie of gemeente het ‘n kultuur. Jy kan tot ‘n groot mate die kultuur van ‘n organisasie, skool of kerk aanvoel, wanneer jy by die deure instap. ‘n Kollektiewe kultuur is kragtiger as enige goeie strategieë, bedoelings of vaardighede. Die kultuur is die ekosisteem van ‘n instansie. Die kultuur veroorsaak dat sekere waardes (goed of sleg) spontaan ontstaan en in stand gehou word, ongeag die strategie wat op die oppervlak gedryf word.


Kom ons neem ‘n voorbeeld. Die leiers in ‘n gemeente kan besluit dat die gemeente nie genoeg evangelisasie doen nie en dat daar iets aan gedoen moet word. Dus beplan hulle ‘n veldtog met ‘n preekreeks en Bybelstudies hieroor vir ses weke. Die frustrasie is egter dat na die ses weke, die gevoel ontstaan dat daar nie veel verander het nie. Dit is gewoonlik omdat – al was die ses weke veldtog van hoogstaande gehalte – die kultuur van die gemeente nie bevorderlik is vir evangelisasie nie. Dus graviteer die gedrag van die gemeente eenvoudig terug na wat ook al die kultuur voor die veldtog dikteer het. Effektiewe evangelisasie word dan ondermyn deur byvoorbeeld ‘n koue, ongasvrye kultuur, ‘n musiekstyl wat slegs vir kerkmense relevant is, daaglikse gemeentebesluite wat nie daarop gerig is om vreemdelinge te akkommodeer nie, ‘n teologiese onderbeklemtoning van die relevansie van die kruis, ‘n begroting wat nie missionaal bestuur word nie en nog meer. Ander verdienstelike sake kan ook gekelder word deur kulturele dinge, soos swak verhoudings of konstante onafgehandelde konflik of gewoontes van jarelange stagnasie. Hierdie dinge onder die oppervlak bepaal dan eenvoudig die uitkoms eerder as die veldtog. Kultuur funksioneer dus onder die oppervlak, maar dikteer die strategie bo die oppervlak.


Die strategie was heel moontlik goed, maar culture eats strategy for breakfast.


Wat is die grootste (geheime) taak van ‘n leier? Om die regte kultuur te skep. Dis nie om vaartbelynde vergaderings te hou, huisbesoek te doen, mooi preke te preek of mense gelukkig te hou nie. Al laasgenoemde sake kan wel deel uitmaak van ‘n gesonde kultuur, maar dis veel meer as dit. Positiewe resultate en geestelike vrug vind plaas binne-in ‘n kultuur, waar die waardes van Jesus spontáán kan vorm aanneem in mense se lewens. ‘n Organisasie met ‘n gesonde kultuur is ‘n omgewing waar daar goeie, gesonde en bevorderlike verhoudings is, wat kan dien as vrugbare grond vir allerhande soorte van koninkryksgroei.


Die mees basiese dinge, wat gewoonlik ‘n gesonde geestelike kultuur skep, is dinge soos ‘n missionale dringendheid, goeie gesonde en spontane verhoudings, ‘n hoë vlak van onderlinge verdraagsaamheid, positiewe hantering van konflik, ‘n sterk klem op persoonlike transformasie, ‘n fokus om in die taal van die omliggende kultuur te kommunikeer en laastens ‘n klem om die Bybel as finale outoriteit in die gemeenskap se lewens. ‘n Gesonde kultuur word dan gevorm, wanneer die dag-tot-dag besluite oor ‘n lang tyd konsekwent in die lig van al hierdie genoemde waardes geneem word.


Goeie leiers hou hulleself nie bloot besig met goeie individuele take nie. Goeie leiers bou oor ‘n lang tyd ‘n kultuur, wat bevorderlik vir ware, diep lewenstransformasie, gegrond op die waardes van die evangelie is.


Culture eats strategy for breakfast.
bottom of page