top of page

Dankbaarheid verdryf selfs die ouderdom


Hoe gemaak dat jy nie kla oor jou ouderdom nie? Eenvoudig! Jy laat die Gees jou vervul.
Dankbaarheid verdryf selfs die ouderdom

Dis nogal ‘n refrein, wat ek dikwels hoor: “Ek wil nie soos oom X of tannie Y oud word nie. Hulle is onvergenoegd.” Goddank, daar is meer mense, wat mooi oud word as diegene, wat met langer lippe elke nuwe lewensjaar trotseer. Hoe gemaak dat jy nie een van laasgenoemde kategorie word nie? Eenvoudig! Jy laat die Gees jou vervul. Jy maak soos ‘n Geesgevulde Dawid op sy oudag in Psalm 37:21 - 25. Jy hou jou oog op die Here en op Sy goedheid, nie op al jou pyne, skete en tekorte nie. Ook fokus jy nie gedurig op slegte dinge, soos skelms, misdaad en alles wat verkeerd is in die wêreld nie, soos wat Dawid ook voorskryf.


Jy word nie iemand anders elke keer as jy verjaar nie. Jy gaan jouself bly tot aan die einde van jou lewe. Die ouer weergawe van jouself oor vyf of tien jaar van nou af, gaan steeds jy wees! Maar jy kan elke dag kies of dit ‘n verbitterde jy is, wat uit die bed gaan opstaan en of dit ‘n terneergedrukte jy is, wat elke aand gaan slaap. Niemand dwing jou om te haat, moeilik of ontevrede te wees nie. Nee, jy doen dit sommer self. Of nie! Kies elke dag die Here se pad van sagtheid, vergifnis, tweede myle en geluk en los die roete vorentoe aan die Here oor. Hy sal sorg!


Gebed:

Laat my elke nuwe dag en elke nuwe lewensjaar vol van U Gees tegemoet loop, Heer. Amen.

Bình luận


bottom of page