top of page

Dankbaarheid


Marietjie Joubert skryf in haar nuutste My Lewe nuusbrief oor hoe ons kan leer om dankbaarheid te kweek in hierdie grendeltyd.
Dankbaarheid

Gedurende grendeltyd het ons ‘n baba hond gekry. Penny! Sy is ‘n sjokolade bruin Yorkshire terrier. Sy was bitter klein toe ons haar gaan haal het. Sy het van die eerste oomblik diep in ons harte gekruip. Ons is intens lief vir haar. Haar opgewondenheid vir die lewe is absoluut aansteeklik.


In die tyd het ek en my man ‘n berekende besluit geneem om intense dankbaar te wees vir ons omstandighede. Ons het elke dag gefokus op ons ongekende voorregte! As ‘n mens fokus op klein dingetjies, kom jy agter daar is meer as genoeg om voor dankbaar te wees. Ons het agtergekom dat een en elkeen se omstandighede het verskil in die tyd. Mense het werk, het nie werk nie, kry vol salaris, kry halwe salaris, het werk verloor, het kos, het nie kos nie, het seer omstandighede met kinders of ‘n huweliksmaat. So kon ons opnoem!


In ons teksvers lees ek dat dit God se wil is dat ek moet dankbaar wees. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is die wil van die Here!!! Om dankbaar te wees vir die klein dingetjies sal jou laat dankbaar wees ook vir die groot dinge in jou lewe. Ons sê so maklik ons is geseënd. Weet ons waarvoor, of het dit net ‘n vroom sêding geword. Spog ons as ons dit sê, of is ons opreg geseënd.


Om dankbaar te wees, laat jou anders kyk na die lewe. Dan sê jy dankie vir ‘n skewe snytjie brood soos Jannie du Toit sing. Dankbaarheid moet ‘n lewenstyl word. Jy gaan dinge raaksien wat voorheen nie saak gemaak het nie.


Onse Penny, met haar lewenslus, het ons opnuut laat fokus op ‘n klein diertjie wat gelukkig is om net by ons te wees, in die sonnetjie te lê, te eet, met ‘n bal te speel of in my arms aan die slaap te raak. Sy het eintlik niks, net ons liefde en omgee vir haar. Dit maak haar die gelukkigste hond in die wêreld.


Kom ons fokus die week op wat ons het, en nie wat ons nie het nie. Druk jou kinders as hulle iets vir jou gedoen het wat jy self moes gedoen het. Los die skottelgoed op die droograk en gaan sit in jou man se arm op die bank. Dalk het jy die laaste stukkie koek geëet op die bord! Laat dit jou met vreugde vul. Loop in die tuin en sien die blommetjies wat jy geplant het.


Ons wil so graag dat die Here met ons tevrede wees. Kom ons wees dankbaar, dit is God se wil.

Commentaires


bottom of page