COVID-19 groei; ons geloof en liefde doen dieselfde!
top of page

COVID-19 groei; ons geloof en liefde doen dieselfde!


Verlede Woensdag het die Wêreld Gesondheid Organisasie die corona virus tot ’n internasionale pandemie verklaar. Dit het gevolg kort nadat die 100ste land op die planeet hierdeur getref is. Skaars vier en twintig uur later het nog 14 lande op die lys van besmette lande verskyn.


Skielik raak COVID-19 ons almal. Op 21 Maart sou 'n ekerk toer na Israel toe vertrek het. Toe, op 12 Maart is Israel onder kwarantyn geplaas. Ons toer moes 10 dae voor die tyd gebriek word, tot groot konsternasie van almal. (’n Nuwe toer is darem geherskeduleer. Hopelik sal ons teen 28 November weer ons toer se drade kan optel!) Wêreldwyd word sportbyeenkomste, motorskoue en konserte tans op groot skaal afgelas. Landsgrense, skole, universiteite en besighede word ook gesluit. Almal is onseker en bang. Party sê dis Openbaring se tekens in volkleur. Ander sê die corona virus beteken die einde van baie besighede, asook 'n reuse ineenstorting van internasionale beurse.


Hoe gemaak in hierdie tyd? Wel, ons almal moet goeie voorsorgmaatreëls in plek hê. Maar ons moenie paniekbevange raak nie. Gelowiges wat op die Here vertrou ken ’n kalmte van gees en ’n innerlike rustigheid onder alle omstandighede. Ons weet ons is die Here se eiendom. In voorspoed en in teenspoed is die Almagtige by ons.


Ons onthou ook in hierdie dae die geloofshelde van weleer daar in die vroeë kerk wat hulle lewensmiddele met mekaar gedeel het en wat gehelp het om medegelowiges te versorg. Dit is nie nou die tyd van elkeen vir homself of haarself nie- nie as ons in die Here glo nie. Nou bid ons vir mekaar en vir ons Hemelse Vader se stukkende wêreld. Nou dien ons ander mense. Nou glo ons met meer toewyding as ooit. Nou ontferm ons onsself oor minderbevoorregtes wat nie toegang het tot goeie mediese fasiliteite nie, en oor oues, eensames en vergetenes. Nou is ons daar vir mekaar. Dit is die roete van ons Heer.


bottom of page