Connecting is die nuwe fixing
top of page
  • Writer's pictureekerk

Connecting is die nuwe fixing

deur Roedolf Botha


In hierdie My Wêreld nuusbrief skryf Roedolf Botha oor ons Godsbeels en hoe dit lyk as ons 'n God het wat alles moet fix, teenoor 'n God wat met ons wil connect.
Connecting is die nuwe fixing

Vandag se mense is fixers! Ons wil alles regmaak en herstel. Alle probleme moet nóú opgelos word. Ons is korttermyn gefokus en kitsgedrewe. Ons microwave alle probleme reg. Ons het nie baie tyd nie en ons het nie veel geduld met lang uitgerekte stories nie. Dit maak seker aan die een kant sin. Die ontwikkeling van die stoomenjin in die agtiende eeu, en ander masjinerie en die geweldige groei in huidige tegnologiese ontwikkeling het dit vir ons oor die jare die vermoë gegee om deur middel van nuwe tegnieke, sisteme en strukture, byna enige uitdaging die hoof te bied. Masjiene, rekenaars en selfone kan enige iets regmaak. Dis nie noodwendig sleg nie. Ek wonder egter of ons nie verslaaf geraak het aan fixing en ‘n tipe aversie ontwikkel het teen organiese, meer natuurlike langtermyn prosesse nie.


Die negatiewe nagevolg van dit is ongelukkig dat ons hiermee ‘n masjienagtige en tegnologiese soort spiritualiteit ontwikkel het. Byvoorbeeld:


  • Gebed word ‘n meganisme, ‘n stuk tegnologie waarmee ons alles moet fix en as God nie gou genoeg ingryp nie dan sê ons gebed werk nie.

  • Die land moet reg gebid word. Ek bedoel It’s Time! Hoe lank moet ons nou nog wag voordat die Here ons land herstel?

  • Ons sien God se koninklike heerskappy as ‘n fixing meganisme. As God dan werklik “in beheer” is waarom ruk Hy nie dinge reg nie?

  • Ons wil verhoudings tussen mekaar – mans en vrouens, ouers en kinders – blitsvinnig fix. Ons wil ‘n berader gaan sien en dié persoon moet gou-gou ‘n sielkundige of pastorale haas uit die hoed ruk sodat ons beter kan voel.

  • Wanneer ons siek is wil ons nie reg en gesond eet nie. Nee, ek gaan eerder dokter toe en kry ‘n pil wat my gou-gou laat beter voel sodat ek kan werk toe gaan, al het my liggaam nog nie genees nie.


Ons sê ons glo in die God van Jesus maar in ons harte loop ons eintlik met ‘n Star Wars filosofie. In hierdie filmreeks vind ‘n mens wonderlike wetenskapsfiksie, maar swak teologie. Star Wars sien die Goddelike as ‘n onpersoonlike Krag.


May the Force be with you.


Dit is die frase wat Luke Skywalker en sy Jedi-helde gedurig teenoor mekaar uiter. Dit is egter niks nuuts nie. Die antieke Grieke het al gesê dat die ganse kosmos aanmekaar gehou word deur ‘n onpersoonlike Krag wat genoem word die Logos. ‘n Mens kan egter geen verhouding hê met ‘n krag nie. ‘n Krag moet mens leer beheer en bemeester juis sodat jy dinge kan fix.


Die Bybel skets egter vir ons ‘n heel ander prentjie van God. Johannes praat met Griekssprekende Jode en hy praat ook van die Logos. In Johannes 1:14-18 beweer hy egter dat die Logos persoonlik is. Jesus is die Logos! Dan gebruik Johannes verder familie- en verhoudingstaal om aan te dui dat God persoonlik en relasioneel is. Hy is geen onpersoonlike krag nie maar ‘n Persoon, ‘n lewende Wese wat ons lief het. Dit beteken dat die ganse lewe relasioneel en persoonlik is en ook so behoort te funksioneer.


Die implikasie van hierdie realiteit is dat God nie primêr ‘n Fixer is nie maar ‘n Connector. Hy is ‘n verhoudings-God. Nou moet ek dadelik erken dat God natuurlik ook die gebroke wêreld wil herstel. Dit is immers waarom Jesus as Messias gekom het: om die wêreld weer een te maak soos voor die sondeval. Maar hier is die groot verskil met ons fixing gesindheid:


Ons wil alles fix sonder verhoudings. Verhoudings neem te lank. Daar is nie altyd tyd, en al die drama wat daarmee saamgaan, om verhoudings te kweek nie.


God herstel egter die wêreld deur verhoudings. Connecting is Jesus se manier van fixing.


Indien ons dit nie verstaan nie, sal ons God en Jesus ook nie verstaan nie, al bid ons hoe baie en lees elke dag etlike hoofstukke uit die Bybel. God werk nie meganisties soos ‘n stuk tegnologie nie. Hy werk organies. Verhoudings is God se einddoel, sowel as sy strategie. Dit is vir my verstommend hoe sommige gemeentes se leiers dink hulle ‘n gemeente se probleme kan oplos deur gedurige dinkskrums, strategiese sessies en aan strukture te torring, in plaas daarvan om aan verhoudings te werk en Jesus-waardes uit te leef oor ‘n lang termyn!


Verstaan my mooi: struktuur en strategie is belangrik. Ek het al self etlike strategiese sessies gelei en geïnisieer. As ons dink dit is hoe God lewe in ‘n gemeente inblaas, dan leef jy asof God onpersoonlik is en onpersoonlik te werk gaan. Jy leef dan met ‘n Star Wars teologie.


Jesus het nie gesê: The Force will be with you, nie.


Hy het gesê: Ék is by julle, al die dae tot die voleinding van die wêreld.

bottom of page