Carpe diem!
top of page

Carpe diem!


Helena Smith gesels in haar nuutste My Lewe nuusbrief oor hoe ons as gelowiges die dag kan aangryp!
Carpe diem!

Ek weet nie of jy ook soms so voel nie, maar partykeer voel dit vir my asof ek net deur die dag tjommel. Ek doen net die minimum wat van my verwag word en stap geen ekstra myle nie. Onlangs op so n tjommeldag kyk ek na ‘n video van ‘n inspirerende jong onderwyser, Dalton Barends. Hierdie jong man het my laat besef dat ek dankbaar moet wees dat ek gesond is en in hierdie pandemietyd lewe. Hy het my weer laat besef dat ek elke dag moet aangryp.


Baie van ons het as gevolg van Covid kennisse, vriende en familielede verloor. Dalk voel jy ‘n bietjie angstig en wonder of jy die volgende slagoffer is. Miskien moet ons eerder ‘n gesindheid van dankbaarheid hê oor die feit dat ons nog lewe. Dink ‘n bietjie daaroor: jy is nog hier op aarde, omdat die Here jou nog wil gebruik. Jou werk is nog nie klaar nie. Elke dag moet ek en jy vir die Here sê: Hier is ek, gebruik my. As jy, soos ek, elke dag by die werk ‘n aantekenregister moet invul, sê sommer vir die Here: Ek meld aan vir diens.


In Efesiës 5: 15 - 17 lees ons: “Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos ‘n dwaas leef nie - leef wys! Benut elke geleentheid, want ons lewe in slegte tye. Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is.”


As ‘n mens regtig elke dag wil aangryp, gaan dit beteken dat jy in God geanker moet bly. Jy sal dus elke dag jou geestelike tenk by Hom moet volmaak en tyd in Sy teenwoordigheid deurbring. Dit gaan ook beteken dat jy doelbewus moet lewe. Vriendelik moet wees met almal, wat jou pad kruis. Bereid moet wees om ekstra myle te stap saam met mense, wat die Here oor jou pad stuur. Ook by jou huis moet jy doelbewus werk aan verhoudings met jou lewensmaat, jou kinders, jou ouers en huiswerker.


Die Here roep jou dalk nie om sendingwerk in China te doen nie, maar om spore in mense se lewens te laat, met jou woorde, houding en gesindheid. Iemand wat elke geleentheid benut, sal probeer om die lewe vir ander beter te maak. God het ons gemaak met die doel dat ons ons lewens sal wy aan die goeie dade, waarvoor Hy ons bestem het. (Efesiërs 2:10)


Gryp die dag en wees sout en lig vir almal, wat jou pad kruis!

bottom of page