Bou Jesus se legkaart met jou lewe
top of page

Bou Jesus se legkaart met jou lewe


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor hoe ons Jesus se legkaart kan bou met ons lewens.
Bou Jesus se legkaart met jou lewe

Ons lewe is ook soos ‘n legkaart waaraan ons elke dag ’n paar stukkies bou. Dit is baie belangrik dat ons moet weet hoe die groter prentjie van hierdie legkaart waaraan ons bou lyk. As ons dít nie weet nie bou ons dalk vir jare lank aan ’n lewensdroom net om op ’n goeie dag agter te kom dit is toe al die tyd die verkeerde prentjie. Kom ons leer by die apostel Paulus. Hy het sy eie lewe se legkaart geskoei op Christus. In Filippense 2:5 - 11 deel hy hierdie visie van sy Heer, wat hyself lewenslank nagebou het. As jy hierdie fotobeeld van Christus lees, dan sien jy dit as een van opoffering en prysgawe. Jesus het sy hemelse heerlikheid opgeoffer om soos ’n slaaf tussen ons te kom leef. Sy menswording is een van vernedering en dood. Hy het Homself soos ’n slaaf opgeoffer en uiteindelik ’n wrede kruisdood gesterf. Genadiglik het God Hom toe lewendig gemaak en Hom verhoog tot die heel belangrikste plek in die heelal. Jesus is nou die Here oor die hele heelal.


Filippense 2:5 - 11 is die hemelse bloudruk en die regte legkaart, waarvolgens Paulus sy eie lewe gebou het. Dit is die bloudruk waarop jy en ek ons lewens moet bou. Soos wat Christus Homself prysgegee het, gee ons ons lewe prys vir Christus. Ons dra sy kruis. Ons leef ons ganse aardse lewe op sy roete. Ons leef in God se wil. Saam met Paulus weet ons ook dat nuwe lewe by Christus op ons wag, omdat ons hierdie legkaart van Filippense 2:5 - 11 met ons lewe nabou.

bottom of page