top of page
Writer's pictureSiegfried Louw

Bottelborsels en ʼn witkaree


Dit is vir my heerlik om verkleurmannetjies in die veld te soek. Sekere tye van die jaar kry ʼn mens hulle nogal maklik, veral op windstil en sonnige lentedae.

 

Een van die truuks om ʼn trapsuutjies te kan vind, is om te weet waar om te soek. ʼn Dennebos ruik dalk heerlik en ʼn eikeboomlaan is dalk pragtig met sy nuwe liggroen blare, maar jy fynkam tevergeefs vir ʼn verkleurmannetjie tussen daardie takke. Indien jy dalk enetjie sóú kry, is dit waarskynlik net ʼn deurganger op pad na ander jagvelde.

 

Begin liewer by ʼn plek naby water, waar daar olienhoutbome, witkareebome en langer grasse groei. Hulle verskaf wegkruipplek vir kleiner en groter verkleurmannetjies. Miskien het jy dalk reeds gesnap wat hier aan die gang is. Dennebome en eikebome is uitheems. Olienhoutbome en witkarees kom natuurlik in Suid-Afrika voor.

 

Ons moet egter nie te gou gevolgtrekkings maak nie. Een van die plekke waar ek die meeste verkleurmannetjies in digte bevolkings vind, is tussen die bottelborsels. Die struik se dikker en dunner takke, bondels blare bymekaar en interessante blomme en sade gee ʼn heerlike tekstuur vir die Kaap se drie soorte verkleurmannetjies. Die struik is uitheems, maar die verkleurmannetjies is baie tuis daar.

 

So gepraat van tuís – ons hoor dikwels hoe mense deesdae ontuis of ontheem voel. So asof daar iets fout is met die wêreld en ons nie lekker ons eie plek kan vind nie. Christene wil ook graag op plekke woon en werk, waar ons ons roeping kan uitleef. Dit kom egter nie altyd so maklik nie. As ons moet wag vir die regte tyd en plek, waar ons veilig voel om as volgelinge van Jesus te leef, is ons getuienis op daardie plekke dan só nodig?

 

Verkleurmannetjies help my om hieroor te dink. Hulle gee vir my drie opsies:

 

1.    Die perfekte tuiste: Verkleurmannetjies het hulle natuurlike habitat, wat al baie lank reeds bedreig word. Dit is areas met groepe inheemse struike en bome, waar hulle onverstoord kan voortleef. Ons het almal ‘n behoefte aan plekke, waar ons onsself kan wees en waar die mense rondom ons ons waardes en lewensuitkyk deel.

2.    Die onmoontlike tuiste: Verkleurmannetjies kan nie in dennebome oorleef nie. Net so sal daar sommige omgewings wees, waar jou waardes en menswees eenvoudig nie met die kultuur of verwagtings sal ooreenstem nie. Jy kan byvoorbeeld nie jouself in ʼn situasie oorgee aan korrupsie rondom jou, net omdat almal om jou dit van jou verwag nie.

 

Gewoonlik haak ons tussen bogenoemde twee opsies vas, maar die derde opsie hou my aan die dink:

 

3.    Die verrassende tussenin blyplek: Bottelborsels is nie verkleurmannetjies se natuurlike tuiste nie. Ons tuinmaakgewoontes het hulle egter gedwing om by hierdie struike aan te pas. Die reptiele kry dit reg deur gewoon voort te gaan om hulle normale oorlewingstrategie toe te pas, al is die omstandighede nie ideaal nie.

 

Ons kan kies om te soek vir die perfekte tuiste en te dink dat ons dán eers ordentlik sal kan getuig. Of ons kan onsself moedswillig binne kontekste gaan plaas, waar ons menswees en sienings doodgewoon altyd ongewens sal bly. Óf ons kan aanvaar dat ons in ʼn onperfekte wêreld is, waar diepgaande tuiskoms uiteindelik in Christus te vinde is.

 

Kolossense 4:5-6:

Tree met wysheid teenoor buitestanders op en koop die tyd uit. Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om 'n ieder en 'n elk te antwoord.

Comments


bottom of page