top of page
Writer's pictureSiegfried Louw

Bont en Blink


Bont, blink en besig. Dit is weer daardie tyd van die jaar, wanneer die winkels oor Kersfees opgewonde is nog voordat die kerke daaroor begin sing. Die bemarkingsveldtogte vir Swart Vrydag kry ons opgewerk en slaggereed vir die tyd, energie en geld wat die feesseisoen van ons gaan vra.

 

Ongeag wat die brandstofpryse, inflasie en wêreldekonomie met ons Desembergewoontes gaan doen, bly Advent, Kersfees en Epifanie die tyd van die jaar wanneer ons tradisioneel die geboorte van Christus vier. Gedurende hierdie jaar het ʼn rekordgetal verkiesings wêreldwyd plaasgevind. Waarskynlik gaan 2024 vir lank nog in die geskiedenis van die toekoms bespreek word.

 

Die geboorteverhale van Jesus is soos ʼn kersvlam wat meteens in die donker begin brand. Dit trek ons oë se aandag, sodat ons wegkyk van al die skaduwees en donkertes rondom ons. In daardie tyd was daar ook allerhande groot sake in die wêreldpolitiek aan die gebeur. Die skrywers van die evangelies ignoreer die groot nuus van die tye, terwyl hulle skryf oor die koms van die Gesalfde Een.

 

Die groot menere van die dag, met al hulle doen en late, word dalk net so terloops genoem. ʼn Herodes hier, ʼn keiser Augustus daar. Die politieke arena in die Romeinse Ryk het deurgaans ʼn geweldige invloed op wêreldgebeure gehad. Maar dít waarop die evangelieskrywers fokus, was eintlik ʼn blatante verset. Terwyl Herodes en ander belangrike mense in die paleise en groot geboue besig was met hulle politiek en magsvertoon, is ʼn baba in ʼn stal in ʼn klein, onbelangrike gehuggie gebore. Die randfigure en onbelangrikes sien Hom eerste raak. Engelekore jubel daaroor. En dít alles gebeur sonder dat die sterk manne van die tyd enige sê daaroor het.

 

Hierdie moedswillige ongeërgdheid in ‘n boek, soos byvoorbeeld Lukas oor die politiek van die dag, behoort ons nie in die Bybel te verras nie. Die verhale van die Ou Testament het die politiekery van die groot magte van die dag met net soveel minagting bejeën. Terwyl Egipte ʼn supermoondheid was, dryf ʼn baba, wat alles gaan verander, ongesiens op die Nyl. Terwyl Babilonië trauma veroorsaak, koop ʼn profeet grond op ʼn onmoontlike plek (die verhaal van Anatoth). Terwyl groot name, soos Nebukadnesar en Bélsasar en die weermagte van Persië en later die Grieke en later die Romeine, wêreldgeskiedenis oorheers, gaan die Bybelskrywers ongesteurd voort om die Ander Verhaal te vertel. “Nee wat,” lewer Daniël 4 kommentaar, “konings en heersers en ryke kom en gaan. Maar God bly God.”

 

Dalk is dit nie so sleg om so af en toe vir Boney M te hoor wanneer hulle steeds elke jaar iewers ʼn kans kry om “Silent Night” oor ʼn luidspreker in die supermark te sing nie. Hulle sing immers ook “By the Rivers of Babylon”, ʼn verwerking van Psalm 137, wat gaan oor die verset teen magsvergrype in ʼn wêreld wat meesal verkeerdom werk.

 

Vanjaar sing ek ekstra hard oor Kerstyd. Ek verset my teen oorlog, magsmisbruik en die uitbuiting van mense. Gee die keiser wat hom toekom, maar gee ook aan God wat God toekom. Maak kruisies by die stembusse wanneer nodig. En gaan dan huis toe en leef vir die Een wat sê sy juk is sag en sy las is lig.

 

Vrede op aarde, vir die mense in wie God welbehae het. Gloria in exelsis Deo.

Comments


bottom of page