top of page
Elmarie van der Westhuizen

Bitterheid teenoor God


In Rut 1 lees ons hoe Naomi en haar skoondogter, Rut, terugkeer uit Moab terugkeer. Naomi is jare gelede saam met haar man, Elimelek, en hul twee seuns uit Bethlehem na Moab. Nou kom sy terug sonder haar geliefde man en seuns, met slegs haar skoondogter aan haar sy. Wanneer haar ou vriendinne haar terugverwelkom, borrel haar bitterheid uit: Moet my nie meer Naomi noem nie,” sê sy vir hulle, “noem my nou liewer Mara, want die Almagtige het my lewe bitter gemaak. Ek het vol hier weggegaan, maar die Here het my leeg laat terugkom. Hoekom sal julle my nog Naomi noem, as die Here teen my gedraai het en die Almagtige soveel ellende oor my laat kom het? (Rut 1:20, 21 NLV)


Met haar hart uitgeruk deur die verlies van haar man en seuns, het Naomi gevoel die Here is teen haar, het haar “lewe bitter gemaak”. Sy het wel nie haar rug op God gedraai nie, maar het openlik haar pyn, teleurstelling en bitterheid teenoor begrypende vriendinne geverbaliseer. So kan ek ook uit die oog verloor watter seën daar wel in my lewe is deurdat mede-Christene daar is om my te ondersteun en, meeste van alles, dat God self belowe dat Hy my nooit sal begewe of verlaat nie. (Hebreërs 13:5b)


Dis nie in die Bybel aangeteken hoe Naomi haar saak met God reggemaak het nie, maar ons sien hoe sy die werklikheid van God se voorsiening herken en erken, wanneer Rut se pad met dié van Boas kruis. Ek gaan nie noodwendig, soos Naomi, die voorreg hê om God se korttermyn plan tot verwesenliking te sien kom nie, nóg minder Sy langtermyn plan.


Wat ek wel hieruit kan leer, is dat ek openlik teenoor God mag bely dat ek voel dat Hy my verlaat het. Hy ken my hart en wil graag hê dat ek met my stryd na Hom toe kom. Maar, wanneer ek, soos Naomi, teen my teleursstelling en pyn vaskyk, gaan ek met onvrede en bitterheid in my hart rondloop. Hierdie bitterheid kan al die fasette van en verhoudings in my lewe skade aandoen. Ek kan eerder in nederigheid voor my Hemelvader kniel:


Ewige Vader, ek bely dat ek vir U kwaad is, dat ek verbitterd begin raak het teenoor U oor die pyn en teleurstelling, wat U in my lewe toegelaat het en dit terwyl ander, wat U nie eens dien nie, skynbaar so lig daarvan afkom.


Maar Here, hoe kan ‘n nietige mensie, soos ek, dit bedink om U te wil vergewe? U is die heilige, ewige God en ek kan maar net in die diepste nederigheid voor U kom kniel en U vra om my, my sondige opstandigheid te vergewe.


So baie dankie dat U Woord belowe dat, as ek my sonde bely, U my vergewe, my opnuut skoon was met die bloed van U Seun. (1 Johannes 1:9)


Amen!

Commentaires


bottom of page