Besluite, besluite!
top of page

Besluite, besluite!


Passiwiteit is nie ‘n opsie vir ‘n leier nie. Leiers staan (met reg) daarvoor bekend dat hulle aktief is, momentum skep en vorentoe beweeg, al is dit soms stadig en tydsaam. Daarom is gesonde leiers nie bang vir die neem van besluite nie. Hoe groter die droom, organisasie, of doelwitte, hoe meer omvangryk en kompleks kan besluite egter raak. Trouens, die kwaliteit van ‘n bepaalde span of leier se leierskap kan in ‘n groot mate in verband gebring word met die kwaliteit van besluite, wat so ‘n leier neem. Dit het veral te make met moeilike besluite en besluite wat onder groot druk geneem word.


Die gewigtigheid van sommige besluite het al talle kere veroorsaak dat leiers vries of besluiteloos raak. Besluitelose leiers kan dodelik vir enige organisasie wees. Die druk kan egter ook veroorsaak dat mense vinnige, impulsiewe en ondeurdagte besluite neem. Dit kan ook skadelik wees. Navorsing en ervaring leer egter vir ons dat besluiteloosheid ‘n groter gevaar inhou as impulsiewe besluite. Soms is enige besluite beter as geen besluit nie. Maar wat is die rede dat leierskapspanne of -individue besluiteloos raak? Besigheidskenners is dit eens dat daar veral twee faktore is wat leiers laat vries, wat hulle keer om tot gesonde aksie oor te gaan.


1. Vrees


Vrees het dieselfde effek op sommige leiers as wat gebeur wanneer ‘n wildsbok in die kollig van ‘n motor beland. Dis asof die kollig die arme bok só ontsenu dat sy net passief in die lig kan staar. Dis dan wanneer sy totaal en al in die mag van die jagter val.


Vrees of angs vind gewoonlik plaas, wanneer emosies aangaande ‘n sekere saak hoog loop, of wanneer die impak van die besluit intens gaan wees, of wanneer opinies erg verskil. Dan is ons bang dat ons ‘n kliënt kan verloor, of ons vrees ‘n dreigende hofsaak, of dat ons geld kan verloor. Dis daarom uiters belangrik vir maatskappye om nooit besluite te neem wanneer vrees hoog loop nie. Alhoewel ‘n mate van vrees verstaanbaar is, moet dit aangespreek word deur uiteindelik ‘n besluit te neem.


2. Kritiek


Almal kry kritiek. Veral leiers. Gewone werknemers, wat nie ‘n hoë mate van verantwoordelikheid het nie, sal selde skerp onder vernietigende kritiek deurloop. Met leiers is dit anders. Leiers neem ‘n hoër mate van verantwoordelikheid en die meeste mense het gewoonlik sterk opinies aangaande die sake waaroor leiers besluite moet neem. Juis om hierdie redes sal daar altyd kommentaar en kritiek wees, wanneer leiers leiding deur besluite gee. ‘n Mens moet dit te wagte wees en nie wegdeins van die verantwoordelikheid om op die ou einde ‘n besluit te neem nie.


Wat is goeie beginsels vir gesonde besluitneming?


1. Vermy besluiteloosheid deur ‘n sperdatum te stel


Elke soort besluit sal vra vir ‘n ander soort sperdatum. Maak egter seker dat jy deur die aard van realistiese omstandighede gedwing word om die besluit te neem, voordat dit te laat is, of voordat die geleentheid verby is. Talle goeie geleenthede het al op die strand uitgespoel, omdat leiers te traag was om die golf te ry, terwyl dit nog te vinde was. Dis ‘n belangrike deel van leierskap: om te weet watter golwe ek nóú moet ry en watter golwe ek eers moet los.


2. Vermy ondeurdagte impulsiwiteit deur genoeg tyd te gee


Neem genoeg tyd proporsioneel tot die gewigtigheid van die spesifieke besluit. Aan besluite met groot potensiële impak moet meer tyd toegeken word. Groot besluite moet meer tyd hê, maar besluite met minder impak moet onmiddellik, of ten minste spoedig, geneem kan word.


3. Maak seker daar is genoeg opsies


Wanneer daar nie genoeg opsies of moontlikhede op die tafel is nie, is dit heel waarskynlik nog te vroeg om (veral ‘n gewigtige) besluit te neem. Alhoewel dit soms nie moontlik is nie, leer ervaring ons dat hoe meer opsies beskikbaar is, hoe meer effektief is die besluit. ‘n Goeie voorbeeld is wanneer dit kom by aanstellings. Hoe meer kandidate daar is, wat aansoek doen vir ‘n bepaalde pos, hoe beter word opsies opgeweeg, bespreek en geëvalueer. Ook wanneer groot geld uitgegee moet word om ‘n belangrike item aan te koop, of wanneer tussen verskillende dienslewerings gekies moet word, moet ‘n mens besef dat hoe meer opsies jy het om van te kies, hoe beter is die besluit. Dit geld vir die meeste ander besluite ook.


4. Vra: Wat is die ergste wat kan gebeur?


Dis altyd goed om die ergste moontlike uitkoms te visualiseer van die besluit. As dit is dat iemand se eie toekoms erg geaffekteer kan word daardeur, dan moet mens dalk mooi en hard dink. Wanneer ‘n groot bedrag geld ter sprake is, wees versigtig. Maar heel dikwels wanneer ‘n besluit gevrees word, en hierdie vraag word gevra, dan kom mens agter dat die implikasies nie so katastrofies is as wat mens dink nie. Dan word mens bevry om die besluit met groter vrymoedigheid te neem.


5. Kry die regte informasie


Wanneer die besluite baie informasiegedrewe is, is dit vanselfsprekend dat die nodige informasie bekom moet word. Belangrike vrae in hierdie verband is: Verstaan ons die beginsels ter sprake? Het ons die effek hiervan oorweeg? Is die finansiële impak in ag geneem? Is die waardes van die maatskappy in ag geneem? Is dit in lyn met ons strategie?


6. Bemagtig jou span en lei hulle op om goeie besluite te neem


Die beste besluite is dié besluite, wat jy nie self hoef te neem, nie omdat jy as leier dit vermy nie, maar omdat jy jou mense goed genoeg opgelei het om self gesonde besluite te kan neem. Dit beteken dat ‘n leier se spanlede toegelaat moet word om soms eie besluite te neem en / of foute te maak. Natuurlik moet die oefenterrein vir hierdie soort opleiding ruimte maak deur nie eksperimentering toe te laat op areas van hoë risiko nie. Hoe meer suksesvol ‘n span of individu raak met sekere besluite, hoe meer kan hulle vertrou word met groter verantwoordelikheid ten opsigte van besluitneming.


7. Laat goeie maatskappywaardes die besluite lei


Wanneer ‘n organisasie of gemeente alreeds oor duidelike en kristalhelder waardes beskik, voorsien dit klaar baie goeie buitelyne vir die neem van goeie besluite, waarby almal gaan baat.


Goeie besluite, wat konsekwent ‘n hoë impak het, die goeie te voorskyn bring en vrugtevolle resultate lewer, is goed vir almal en sal lei tot die welsyn van enige organisasie en gemeente.

bottom of page