Besluit wie jy wil tevrede wil stel
top of page

Besluit wie jy wil tevrede wil stel


Lees Romeine 8:18

 

Toe die skrywer, P. G. du Plessis, een keer gevra is hoe hy kritiek hanteer, het hy geantwoord dat hy op ‘n dag besef het almal hou nie van hom nie. Van toe af was dit vir hom makliker om gelukkig te wees. Dit het my geïnspireer, want daar’s altyd mense, wat in die gesig gevat voel, wanneer jy die Here se Woord padlangs verkondig.

 

Moenie mense probeer gelukkig hou nie. Jy gaan dit nooit regkry nie. Dis tydmors. Dit gaan jou ‘n lewenslange slagoffer van ander se goedkeuring maak. Terloops, wys my een mens, wat almal tevrede probeer hou en wat al ooit die wêreld andersom vir die Here laat draai het! “People pleasers” wen dalk aardse gewildheidskompetisies, maar definitief nie dié in die hemel nie. Sluit vandag nog aan by daardie klein bendetjie, wat die “guts” het om stroomop agter Jesus aan te leef. Hulle is nie meer gepla oor hulle eie beeld, of wat mense agteraf van hulle sê nie. Net God se opinie oor hulle tel punte. Sy goedkeruing maak regtig saak. Speel saam met hulle vir die erkenning van ‘n Skare van Een. Leef vir God se guns. In elk geval weeg al die swaar en seer van die hede nie op teen die heerlikheid wat vir ons voorlê nie. Kyk net na die wenpaal en kies die regte koers. Loop stroomop na God se wonderlike bestemming toe, as dit moet.

 

Gebed:

Here, ek sien ‘n nuwe hemel kom; daarom gaan ek vandag op aarde ‘n verskil maak. Amen.

bottom of page