Beseël vir die groot fees!
top of page

Beseël vir die groot fees!


In sy nuutste Heilige Gees artikel skryf Stephan Joubert oor hoe ons deur die Heilige Gees beseël is.
Beseël vir die groot fees!

Die voorregte uit God se hand, waaraan ons nou reeds deel het, is maar net ’n voorsmakie van dit wat nog voorlê. Hiervan is die Gees die persoonlike waarborg. Hy sal sorg dat ons die wenstreep haal. Hy het ons beseël as God se persoonlike eiendom. Hy is die deposito, wat ons Hemelse Vader as vooruitbetaling op ons elkeen se lewe inbetaal het om ons te verseker dat niks of niemand sal keer dat ons die groot feesbanket in die hemel haal nie. Ons is mense met die toekoms in ons harte, nou al! Ons dra die ewigheid reeds aan hierdie kant van die graf met ons saam. Daarom dat ons kan sing, ook al huil ons soms. Daarom dat ons kan dans en feesvier, al treur ons partykeer oor al die hartseer rondom ons in hierdie stukkende wêreld.


Ons, wat Jesus ken, het nie slegs geloofsekerheid nie. Nee, ons het ook Heilige Gees sekerheid! Hy is God se geskenk aan ons om die egtheid van Sy werke in ons lewe te bevestig. Hy oortuig ons dag na dag dat ons God se eiendom is. Hy lei ons voluit op die pad van die lewe na die Lewe toe! Hy stap saam. Hy is in ons, by ons, langs ons, bokant ons en aan ons sy! Ons is oorwinnend besig om te marsjeer na ons Vader se huis toe!


Gebed

Dankie, Gees van God, dat U my sekerheid is in hierdie onseker lewe. Amen.

bottom of page