top of page
Elmarie van der Westhuizen

Bemoediging – ‘n gawe van die Gees


Elmarie van der Westhuizen skryf in haar nuutste artikel oor bemoeding en hoe dit 'n gawe van die Gees is.
Bemoediging – ‘n gawe van die Gees
Hy bemoedig ons wanneer ons swaarkry, dit maak nie saak wat die swaarkry is nie. Dan kan ons ook ander mense bemoedig wat swaarkry, dit maak nie saak wat hulle swaarkry is nie. Ons kan dit doen, omdat God vir ons bemoedig;”

(2 Korintiërs 1:4, “Die Bybel vir Almal”)


Ons ontmoet Josef (bynaam Barnabas) die eerste keer in Handelinge 4:36, waar hy ‘n stuk grond verkoop, die geld bring en vir die apostels gee. Barnabas was 'n Cypriotiese Leviet en ‘n familielid van Markus (skrywer van die Markus-evangelie). Die naam Barnabas beteken “iemand wat mense moed inpraat”. Hy het hierdie bynaam gekry, omdat hy konstant besig was om mense te bemoedig en te versterk. Hy het ‘n deurslaggewende rol daarin gespeel dat die apostels vir Paulus na sy bekering aanvaar het en hy was ook ‘n mentor vir Markus.


Niemand bereik alleen groot hoogtes in hul lewe nie. Dit word meesal met die hulp en aanmoediging van ander gedoen. Aanmoediging / bemoediging is ‘n gawe van die Gees en ongetwyfeld een van die kragtigste dinge, wat ons kan doen om ander te help (Romeine 12:6,8). Ons hoef nie talentvol of besonders begaafd te wees om dit te doen nie. Enigeen kan dit doen - ons kan net die Here vir die regte woorde vra, soos Jesaja:

Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik, sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.”

(Jesaja 50:4, 1983 Vertaling)


Ons kom daagliks in aanraking met mense wat bemoediging nodig het. Hulle mag dit miskien nie wys nie, maar innerlik trap hulle water. Ons woorde of selfs net ‘n vriendelike glimlag kan ‘n groot verskil maak. Toe Koning George VI van Engeland, onbeplan koning word na sy broer se abdikasie, was sy vrou se ondersteuning en bemoediging met sy spraakprobleem vir hom goud werd.


Soms is dit net ‘n glimlag en ‘n bemoedigende woord wat vir iemand weer moed gee, soos Job vertel in Job 29:24. Soms is dit die aflewer van ‘n maaltyd by ‘n gesin met ‘n nuwe baba wat hulle help om weer ‘n slag kop bo water te kry. In hierdie tyd van ongemaklike Covid-maatreëls kan ‘n oproep of ‘n kaartjie iemand se alleenheid of frustrasie help verlig. Selfs net ‘n Whatsapp-boodskappie van Ouma of ‘n spesiale lekkernytjie van Pa se kant kan die spanning van die matriekeksamen draagliker maak.


Soos wat Jesaja en Barnabas vanuit hulle nabye verhouding met die Here ander kon bemoedig, kan ek ook met die krag, liefde en vrede, waarmee die Here my in my stiltetyd bemoedig, uitgaan en iemand anders ondersteun.


“One of the highest of human duties is the duty of encouragement...It is easy to laugh at men's ideals; it is easy to pour cold water on their enthusiasm; it is easy to discourage others. The world is full of discouragers. We have a Christian duty to encourage one another. Many a time a word of praise or thanks or appreciation or cheer has kept a man on his feet. Blessed is the man who speaks such a word.”

William Barclay




Comments


bottom of page