As ek niks het nie, kan ek nie gee nie
top of page

As ek niks het nie, kan ek nie gee nie


‘Nemo dat quod non habet’ is ‘n Latynse regsterm, wat letterlik beteken dat niemand iets wat hy nie het nie, kan verkoop of weggee nie.


Ek kan nie vir ander gee wat ek nie self het nie, ongeag wat dit is. Dit geld vir besittings, maar ook vir Bybelse waarhede. Ek kan byvoorbeeld nie met ‘n ongelowige of selfs ‘n gelowige debatteer oor die geloofwaardige samestelling van die Bybel, as ek dit nie self reeds bestudeer en my eie gemaak het nie. Wanneer ek aan iemand anders enigiets verduidelik of oorvertel, kom ek agter in hoe ‘n mate ek dit self verstaan.


Ek kan slegs dít gee wat ek reeds het. Dit geld nie net vir die geloofwaardigheid van die Bybel nie, maar ook elke aspek van my geloof. Om met ongelowiges te gesels oor wat ek glo, moet ek dit self eers my eie gemaak het. Daar is vandag ‘n rykdom van betroubare inligting beskikbaar, soos o.a. ekerk.org se aanlyn Bybelskole, waar ek my kennis en geloof kan versterk.


As ek nie moeite doen om spreekwoordelike vaste geestelike kos te eet nie (m.a.w. om die Bybel in diepte te bestudeer en gebruik te maak van die menigte hulpmiddels en bronne wat tot my beskikking is nie) sal ek nie weet hoe om my geloof te verdedig nie.


Ek kan slegs dit gee wat ek reeds binne-in my het. Hierdie stelling geld ook vir ander vlakke van my lewe. Ek kan nie met geduld en liefde reageer op ‘n frustrerende situasie, as ek nie geduld en liefde binne my het nie. Dit klink na so ‘n eenvoudige lewenswaarheid dat ‘n mens amper wonder wat die punt daarvan is om dit op te haal. Ek kan nie Jesus vir die mense om my wys, as ek Hom nie reeds deel van my gemaak het nie. Hoe meer ek tyd in Sy teenwoordigheid spandeer, Sy Woord leer ken, hoe meer ek beheer oorgee aan die Heilige Gees, hoe meer gaan die vrug van die Gees in my lewe sigbaar wees. Ek sal meer soos Hy wees en ek sal Hom as’t ware kan uitdeel aan mense om my.


Die wêreld kyk met kritiese oë na my lewe as Christen. Daarom moet ek altyd Jesus se woorde onthou: Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Johannes 13:34b-35 AFR83

“My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” Johannes 15:8 AFR83


bottom of page