Anderkant die kruis
top of page

Anderkant die kruis


Jesus se aardse sending het spoedig ontaard in ’n lewensgevaarlike sending. Sy ontmaskering van die godsdienstiges se doodsheid, asook sy omgee vir onreines en sondaars het Hom uiters ongewild gemaak in die kringe van die magshebbers van die dag. Nogtans het Jesus se radikale boodskap van genade sondaars, verlorenes en randfigure se harte op elke plek aangeraak. Verlore mense is opgespoor. Siekes is genees. Bose magte het die wyk geneem. Die hemele het oopgegaan bokant stukkendes. Dit het die godsdienstige elite net nog meer ontstel. Jesus moes stilgemaak word. Hy moes van die toneel af verwyder word. Nee, dit was toe nie die plaaslike mafia of die dwelmbase van Jerusalem wat dit besluit het nie; dit was “jolly goeie omies” wat die kinders se koppe gevryf het by die sinagoges. Dit was “vromes” wat ernstig was oor die stiptelike onderhouding van godsdienstige voorskrifte. Hulle het persoonlik afgeteken op Jesus se dood. Maar selfs dit het Hom nie stilgekry nie. Jesus se liefde vir God se gunsteling mense wat op hoopverloor se vlakte uitkamp kon nie eens deur ’n kruisdood stilgemaak word nie. Daarom is daar anderkant die kruis ook ’n leë graf. Die kruis is kaal; die graf is leeg. Die Heer het opgestaan. Hy leef, en ons saam met Hom.

bottom of page