Ander se voordeel is die enigste wagwoord
top of page

Ander se voordeel is die enigste wagwoord



Die man, wat sekerlik die diepste geestelike ervarings van almal daar in die Korintiërgemeente gehad het, naamlik Paulus self, doen die verstommende deur sy eie ervarings met die Here nooit as bewys vir sy eie geestelike volwassenheid te gebruik nie. Dis juis oor hierdie punt dat die apostel en sy gemeente gedurig haaks was. Want hulle het gedurig bewyse van sy geestelike diepte in sy ervarings met die Here gesoek, soos wat Paulus later in 2 Korintiërs 10-13 vertel. Maar Paulus was nie bereid om in die strik van geestelike selfverheffing te trap deur die heel tyd te praat oor die bonatuurlike dinge, wat die Here in en deur hom doen nie. Daar was inderdaad vele sulke geleenthede, soos daardie slag toe Paulus weggeruk is tot in die derde hemel, soos wat hy op ‘n versluierde wyse in 2 Korintiërs 10 noem.


Al wat Paulus wou doen, was om medegelowiges op te bou in hul geloof. Dit het hy op doodnormale maniere gedoen, soos om te preek en mense te onderrig. Sy leringe was in gewone, verstaanbare taal. Dis die belangrikste wyse hoe die Here gekies het om Sy kerk te laat groei, vandag nog. Kies saam met Paulus vir sulke opbouende gawes. Kies om ander gelowiges te laat groei in hul geloof, al gebeur dit ten koste van jouself. Moenie dat hulle jou raaksien nie. Leer hulle eerder om Jesus in die oog te hou.


Gebed:

Laat ander U in my raaksien, Here Jesus. Amen.


bottom of page