Al wat saak maak, is Christus
top of page

Al wat saak maak, is Christus



Om mense tevrede te hou, is een van die vermoeiendste dinge, wat daar is. Vra maar vir onderwysers, verkoopsassistente, leraars, werktuigkundiges, sjefs, tuinwerkers, huiswerkers … Baie mense is eintlik met niks tevrede nie. Jesus self het op ‘n dag in Matteus 11 gesê dat nóg Hyself, nóg Johannes die Doper dit kon regkry om mense tevrede te stel - nou hoe sal jy en ek dit dan ooit regkry? Maar dis gelukkig ook nie ons werk as ons Jesus se volgelinge is nie. Hy roep ons daarom nie om almal rondom ons tevrede te hou nie, maar om God se koninkryk te laat kom.


Ons is nie “people pleasers” nie, al dink baie mense dat Christene dit moet wees. Wat ‘n bevryding om te weet jy en ek hoef nie gedurig kerklike gewildheidskompetisies te probeer wen nie. Of die geur van die week by ons werk te wees nie. Ons speel eintlik net vir ‘n Gehoor van Een. Om Christus se glimlag te sien, is al wat tel! Om te hoor dat Christus sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg!” – dis al wat ons dag in en dag uit moet inspireer. Net EEN se opinie en goedkeuring tel hier en nou en vir altyd. Daarom rig ons elke greintjie energie op Hom. Al ons gawes is daar vir Hom. Al ons woorde en dade is daar om Hom te eer. Dit gaan net oor Jesus, nou en elke ander dag.


Gebed:

Jesus, my gawes moet U as Heer bevestig in my lewe. Help my dat ek U ver-Heer-lik! Amen.

bottom of page