Al van Jesus gehoor?
top of page

Al van Jesus gehoor?


Godsdiens is gedurig in die spervuur en gewoonlik word die Christelike geloof ook sommer onder dieselfde kam geskeer. Onlangs het iemand weer die bekende ateïs, Steven Weinberg, aangehaal wat gesê het:


Good people do good things and bad people do bad things, but to get good people to do bad things, that takes religion.

Dis tog sekerlik waar. Niks is so effektief soos om ‘n goeie mens te oortuig dat hy God ‘n guns doen deur ‘n sneller trek of deur iemand te beswadder nie. Ons sien heeltemal te dikwels hoe godsdienstige mense geweld en onreg pleeg. Van die sondes van die Christelike kerk in die geskiedenis, soos die kruistogte en inkwisisies, het ons ook al tot vervelens toe gehoor. Ook die Ou Testamentiese oorloë word in die debat ingetrek as bewys dat Christene eintlik bloeddorstige fanatici kan wees, wanneer dit hulle pas.


Hoe antwoord ons ‘n ongelowige wat so ‘n beswaar teen ons geloof opper?


‘n Mens sou mý antwoord in ‘n vraag kon omsit:


Het jy al van Jesus gehoor?


Dit klink simpel, ek weet, maar dis ‘n retoriese vraag. Natuurlik sou hy al van Jesus gehoor het. My vraag vra egter vir dieper refleksie oor of hierdie persoon my geloof goed genoeg ken om te weet dat alles staan of val met Jesus. Hy verteenwoordig tog die finale inhoud van ons geloof. Hy is tog ons weg, ons waarheid en ons lewe. Hy bepaal tog ons lewe. Sy woorde bepaal tog ons optrede en gedrag.


Die vraag is dus eerder: Is hierdie afskuwelike dade, wat gepleeg is (in die naam van geloof) ‘n gevolg van Jesus se woorde of ‘n gevolg van die verontagsaming van Jesus se woorde? Hoe kan hierdie slegte dade gedoen word in die Naam van dieselfde Jesus, wat onder andere sê:


- Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie

- As iemand julle op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe

- Julle moet julle vyande liefhê

- Julle moet bid vir dié wat julle vervolg

- Gaan maak eers vrede met jou broer

- Vergewe sewentig maal sewe keer

- Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.


Hoe kan sleg gedoen word in die Naam van ‘n Here, wat Sy vyande vergewe van die kruis af? Mense kan dus maklik sê hulle doen iets in Jesus se Naam, maar dit beteken nie dat hulle Jesus reg verteenwoordig nie!


Hiermee word nie bedoel dat ons nie moet kan praat oor die moeilike vraag aangaande die geweld in die Ou Testament en die res van die geskiedenis nie. Maar Jesus is ons Troefkaart. Ná Jesus word die Ou Testament tog anders gelees as vóór Jesus! Wanneer ‘n bloedige menslike geskiedenis in die lig van die kruis van Jesus gelees word, dan sê dit tog dat God nie ongeërg is oor die lyding en onreg in die geskiedenis nie. Wanneer die pyn en lyding deur die bril van die opstanding gelees word, dan kommunikeer dit tog dat daar lewe en heling kan wees, ook vir mense se lyding! Dit beantwoord nie al ons vrae nie, maar dit sê vir ons dat God liefdevol, genadig en lewegewend is.


Ja, Steven Weinberg, godsdiens kan sleg wees. Maar het jy al van Jesus gehoor?


Want Hy is goed.

bottom of page