top of page

Aanbidding: Wie of wat?


Een deel van ‘n kerkdiens, wat vir my heerlik is, is die lofprysing en aanbidding. Ek sing hartlik saam en geniet die kalmte en rustigheid, wat dit vir my bring.


Nadat ek onlangs die boek, “The air I breathe”, van Louie Giglio gelees het, het ek agtergekom dat ek nie regtig geweet het waaroor lofprysing en aanbidding regtig gaan nie. Ek het agtergekom dat lofprysing en aanbidding nie net net tot die kerk beperk is nie, maar dat ek ‘n lewe van aanbidding moet lei.


God het mense gemaak, omdat Hy graag ‘n verhouding met ons wil hê. Hy het ons gemaak dat ons aanbidders is. Dit is deel van ons DNA om iets of iemand te aanbid. Ons is gemaak om eer aan God, ons Skepper, te bring en om Hom met ons lewens te behaag.


As ons God nie aanbid met ons lewenswyse nie, sal ons beslis iets of iemand anders aanbid. Louie Giglio gee die volgende definisie van aanbidding: Worship is our response to what we value most. Die persoon, ding of aktiwiteit, wat vir jou die belangrikste in jou lewe is, is wie of wat jy aanbid.


Dit kan ‘n verhouding wees, ‘n droom wat jy najaag, vriende, status, rykdom, sosiale media of die een of ander plesier. Dit wat ons aanbid, wys wat vir ons die belangrikste in die lewe is en dit word die dryfkrag in ons lewens.


Kyk ‘n bietjie na die manier hoe jy jou tyd, geld en energie spandeer en waar jou lojaliteit lê. Aan die einde van daardie tydlyn sal jy ‘n troon kry en wie of wat ookal op daardie troon sit, is wat jy aanbid. Die feit is: hierdie tydlyn jok nie. Ek en jy, wat kerkgangers is en sê dat God vir ons die belangrikste in ons lewens is, het dalk ook nodig om selfondersoek te doen.


Hoe lyk ‘n lewe van aanbidding? In Matteus 25: 35 en 36 lees ons: Want Ek was honger en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere en julle het vir My klere gegee; siek en julle het My verpleeg; in die tronk en julle het My besoek.


Op die ou end is lofprysing en aanbidding meer as ‘n lied - dit gaan meer oor ons dade as oor ons woorde.


Commenti


bottom of page