Toe staan Petrus op
top of page

Toe staan Petrus op


Lees Handelinge 2:14

Merkwaardige woorde, dié! Nou die dag nog het Petrus op sy gesig in die modder gelê nadat hy Jesus verloën het. Maar nou staan hy op tussen die groot skare wat saamgedorm het om te kom kyk wat aan die gebeur is. Vol van die Gees het die apostel die skare in die oë gekyk wat gedink het party van die Christene wat in verskillende tale praat is dronk. Hy het hulle dadelik reggehelp deur te sê dat die woorde van Joël 2 pas in hulle midde op ‘n nuwe, aanskoulike wyse in vervulling gegaan het.

Die laaste dae het nou aangebreek. Die laaste dae op aarde word ingelei deur die magtige koms van die Gees van die Here. Die Gees sal in hierdie eindtyd tussen Jesus se eerste en tweede koms met krag in al sy mense werk. Pinksterdag is maar net die openingstoneel van hierdie Gees-fees wat tot en met die wederkoms sal voortduur. Nou word manne en vroue, oud en jonk, swak en sterk omvorm tot lewende, pratende, singende instrumente in God se magtige hand. Nou gebeur lewensverandering in gewone mense se midde omdat die Gees kragtig in en deur hulle werk.

Waarvan is jy tans vol, van jouself, of van die Gees? Waai Hy deur jou? Voel andere die effek van jou eie Geesvervuldheid? Of is dit maar net mooi teorieë in jou omgewing?

Gebed

Dis tyd Here; dis tyd dat U my asseblief propvol met u krag maak. Amen


bottom of page