Episode 11 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]
top of page

Episode 11 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oordenking Lees Romeine 14:1 - 12. Ons het in die video gesien dat Paulus onderskei tussen diegene wat sterk is in die geloof en dié wat nog jonk en swak is in die geloof (14:1). Omdat laasgenoemde dalk nog nuut is in hulle reis saam met die Here, maak hulle vir hulleself nuwe reëls om seker te maak dat hulle Jesus reg volg. Die gevolg is dan dat hulle dalk aanvanklik meer rigied is in hulle verstaan van geestelike dinge en sukkel om te onderskei tussen kernsake en randsake in die Bybel. Dit gebeur dan dat hulle veroordelend oorkom teenoor diegene, wat ‘n beter begrip het van God se vryheid in Jesus en gevolglik minder rigied is. Maar wat is die rede waarom ons moet leer onderskei? Waarom is dit so belangrik dat die swakkeres in die gemeente nie moet veroordelend wees nie en die sterkeres nie moet neersien op die ander nie? Die rede is die éénheid van die gemeente (15:5). Hoe anders sal ons ooit een kan wees met mense van wie ons verskil? Ons moet genade en begrip teenoor mekaar openbaar, asook vir die ontwikkelingsfases van geloof waarin elkeen van ons op ‘n bepaalde tydstip in ons geestelike ontwikkeling verkeer. So laat ons mekaar toe om in gemeenskap met ander mense teen ons eie tempo te groei, sonder die veroordelende oog van ander mense oor ons skouer. Dis egter belangrik om raak te sien dat Paulus nie hier sommer enige ongesonde geestelike of teologiese opinie of gedrag regverdig nie. In hierdie geval handel dit nie oor sake wat kernagtig belangrik is vir die evangelie nie, maar oor grys areas, dit wil sê areas waaroor daar nie duidelike leiding in die Bybel gegee word nie. In 14:1 - 6 word ‘n paar voorbeelde genoem, waarmee die gelowiges in Rome geworstel het. Sommige mense in die gemeente het tot geloof gekom in Jesus, maar as Jode het hulle byvoorbeeld steeds gevoel dat hulle nie teen die Joodse gebruike in die Ou Testament wil gaan nie. Hulle het dus steeds geen varkvleis of van die ander verbode kosse geëet nie. Ander mense weer was nog méér rigied: hulle het slegs groente geëet (14:2). Die redes vir hierdie groentedieet word nie vir ons verduidelik nie. Ander mense het egter gevoel dat God in Jesus hulle vrygemaak het van alle rigiede voorskrifte en hulle het dus van alles geëet (vgl. Handelinge 10). Paulus se punt is dat al hierdie groepe mense in die gemeente doen wat hulle doen vanuit hulle geloofsoortuigings en met bedoelings van toewyding aan God. Dus moet ons mekaar ruimte gun, want God het ons almal aangeneem as sy kinders (14:3). Nog twee voorbeelde handel oor verskille oor hoe slawe en bediendes hanteer word (14:4), asook hoe sekere dae van die week gehuldig word (14:5 - 6). Laasgenoemde het heel moontlik verskille oor die Sabbat ingesluit. In 14:7 - 12 word die teologiese begronding gegee vir hierdie genaderuimte jeens mekaar: Eerstens herinner Paulus ons daaraan dat geen persoon in die gemeente, wat Jesus aanvaar het, dit doen vir hom / haarself nie, maar vir die Here! Hulle doen dit nie uit heidense oortuigings nie, maar uit Christus-gedrewe oortuigings (14:7 - 9). Maar Paulus gee ook ‘n tweede rede (14:10-12): Om te oordeel oor mekaar is nie vir ons mense bedoel nie, maar is slegs vir God beskore. Oefening Watter dinge dink jy behoort ons vandag as kernsake in die Bybel te beskou en watter as randsake? Dink ‘n bietjie watter van die volgende dinge behoort in die kernkategorie en watter dinge behoort vandag as randsake gesien te word. Dink na oor hoe jy iemand sou antwoord wat vir jou leiding vra hieroor.

  • Die kinder- of bekeringsdoop? (vgl. 1 Kor 1:17). Behoort hierdie as ‘n kernsaak gesien te word of as ‘n randsaak?

  • Dat alle mense in sonde gebore word? (Rom 3:21 - 23)

  • Dat ‘n mens uit genade alleen gered word? (Ef 2:8 - 10)

  • Die historiese, liggaamlike opstanding van Jesus? (1 Kor 15: 1 - 4)

  • Dat Jesus in ons plek vir ons sondes gesterf het? (2 Kor 5:20 - 21)

  • Dat ons uit liefde moet leef? (1 Kor 13:1 - 7)

  • Die vrug van die Heilige Gees? (Gal 5:20 - 22)

  • Of ‘n mens op ‘n Sondag mag sport beoefen? (Markus 2: 23 - 28)

  • Wat ons mag eet of nie mag eet nie? (Hand 10:11 - 16)

  • Die Goddelike karakter van Christus? (Joh 1:1 - 3)

  • Die menslike karakter van Jesus?

  • Die gereelde gebruik van die Nagmaal? (1 Kor 11:17 - 33)

Lees ook Romeine 14:13 - 23. Paulus gaan nou ‘n stap verder met hoe ons die eenheid van die kerk kan bewaar. Tot en met vers 12 vermaan hy ons om nie aan mekaar onredelike eise te stel nie. Vanaf vers 13 redeneer hy dat ons eerder die fokus na onsself moet draai: Ons moet eerder sorg dat ons nie onnodig aanstoot gee nie. Wat dit eintlik beteken, is nie dat ons moet toegee aan enige ander puntenerige mense se eng voor- of afkeure nie, maar dat ons nie ons Jesus-gevonde vryheid moet misbruik om jonger, broser gelowiges onnodig te laat struikel nie (14:15). Verduidelik uit verse 13 - 23, in jou eie woorde, hoe hierdie stelling van Paulus werk en hoe hy dit verduidelik. Oordenking Lees Romeine 15:1 - 13. Hier verduidelik Paulus weereens teologies waarom ons na mekaar moet omsien en mekaar nie moet laat struikel nie - Christus se kruisdood het juis plaasgevind as gevolg hierdie eenvoudige beginsel van onselfsugtigheid. Christus het juis nie aan Homself gedink nie; daarom moet ons ook nie in ons daaglikse lewenswandel aan onsself dink nie, maar aan mekaar en aan Christus wat die voorbeeld gestel het (verse 1 - 6). In verse 7 - 13 sluit hy af met die hoogtepunt van die argument, naamlik om die mense te herinner aan waarom God in die eerste plek die verbond met Abraham gesluit het (alhoewel Abraham se naam nie genoem word nie, word die verbond met Abraham sterk geïmpliseer): God het dit gedoen, omdat Hy in die eerste plek Jood sowel as nie-Jood, ál die nasies, wou red en verwelkom in sy familie. Sy aanvanklike plan was die eenheid van al die nasies onder sy eie Goddelike heerskappy. Daarom maak dit sin dat ons ook op klein skaal, in elke gemeente, onsself moet beywer vir eenheid ter wille van Jesus. Dit was immers van die begin af God se plan met al die nasies en die hele wêreld! Sluit gerus af met ‘n gebed.

GEBED: Lewende Here, dankie dat U ook gesterf het vir ons eenheid as U gemeente op Aarde. Help ons om met insig en wysheid te onderskei tussen randsake en kernsake in U Woord. Leer ons om onderskeidingsvermoë te ontwikkel asook absolute liefde vir mekaar, sodat ons nie onredelike geestelike eise stel aan ons medegelowiges en so die eenheid van U gemeente skade berokken nie.

bottom of page