Hoor God
top of page

Hoor God


Om God in jou eie taal te hoor, is om nuwe taal te hoor. Nee, God praat nie maar net in ons bestaande tale nie. Hy gee terselfdertyd ook ‘n totaal nuwe inhoud aan ons taal. Hy praat nuwe woorde van hoop en lewe in ons eie taal. Hy vertel van sy groot dade om die wêreld te verlos. Vra maar vir die mense van regoor die wêreld wat daardie oggend met die Gees se uitstorting in Jerusalem was wat hulle gehoor het. Dan sal hulle vir jou sê hulle het gehoor hoe die Galileërs skielik oor God in ander wêreldtale praat. Nee, die wonder was nie die vreemde tale nie. Die wonder was dat God aan die woord gekom het in vreemde tale.

Taal is steeds die medium waardeur die goeie nuus die vinnigste versprei. Normaalweg is taal ‘n muur tussen verskillende volke, maar die Gees maak elke keer ‘n pad. Hy rig mense in elke volk en nasie op om sy getuies te wees. Is jy ook deel van hierdie nuwe taal van redding wat tans wêreldwyd deur Geesvervuldes gepraat word? Watter tipe woorde laai jy daagliks op jou lippe? Is dit woorde wat oor die groot dade van God getuig? En watter taal praat jou lewe? Is dit hooptaal? Kom leer dan by die eerste Christene in Jerusalem ‘n nuwe taal aan, sodat die wêreld rondom jou sal verander.

Gebed

Laai nuwe woorde van lof op my lippe, Heer. Laat ek u lof orals besing. Amen

bottom of page