Episode 10 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]
top of page

Episode 10 - Romeine 12 weke Bybelskool [video]


Oordenking Ons is steeds besig met Paulus se etiek. Dit wil sê, Paulus is van die begin van 12:1 af besig om vir ons uit te spel wat die praktiese implikasies van die eerste elf hoofstukke van hierdie boek is. Etiek is met ander woorde die konkrete lewe, dade en handelinge, wat behoort te vloei uit die nuwe identiteit, wat ons in Jesus ontvang het. Soos wat ons gesien het in die videogedeelte, word die eerste sewe verse van Romeine 13 dan gewy aan hoe ons moet dink, handel en optree teenoor die regering van die land, waar ons onsself bevind. Oefening Lees Romeine 13:8 - 14 deeglik deur. Skryf jou eie opsomming van Paulus se bespreking in hierdie verse neer. Hoe pas dit in by die gedeelte oor die regering in verse 1 - 7? Wat bedoel hy presies met verse 8 - 14? Neem genoeg tyd hiervoor. Onthou dat ‘n mens eers werklik iets verstaan, wanneer jy probeer om dit in jou eie woorde te skryf. Oordenking ‘n Stukkie agtergrond: In die tyd waarin Jesus en Paulus geleef het, het die mense baie sterk gewerk met ‘n weldoener-begunstigde-raamwerk. Minder invloedryke en eenvoudige mense kon eintlik nie goed oor die weg kom in die lewe sonder die guns van ‘n weldoener nie. Weldoeners was gewoonlik ryk of invloedryke mense, wat guns openbaar het teenoor minder invloedrykes of armes deur vir hulle geskenke, lewensadvies, regsadvies of selfs geld te gee. Hierdie begunstigdes was dan as’t ware in die skuld by die weldoeners. In ruil vir hierdie gunste, wat hulle ontvang het, moes hulle dan die weldoener se naam hoog hou en sy eer in die openbaar beskerm. Hulle moes aan almal verkondig hoe vrygewig en goed hulle weldoener is. Die hele sosiale struktuur van die eerste eeu het op onder andere hierdie praktyk berus. Paulus het dit egter nou al regdeur die Romeine brief duidelik gemaak dat God die enigste ware Weldoener is. In verse 12:1 - 2 probeer hy sê dat totale oorgawe die enigste gepaste manier is om te reageer op God se weldade aan ons. In Jesus en sy dood aan die kruis het God aan ons die grootste geskenk denkbaar gegee. In die lig van die Goeie Nuus van Jesus stel Paulus dit nou egter duidelik dat ons mekaar niks meer moet skuld nie. God is die enigste Weldoener. Hy het ons vrygemaak om in gesonde verhoudings met mekaar te leef oor etniese, geslagtelike en sosio-ekonomiese grense heen. In die lig van die evangelie skuld ons mekaar slegs een ding: absolute liefde (13:8)! Dit geld ook vir ons lojaliteit teenoor die regering. Ons gehoorsaam die regering nie omdat ons dit iets skuld nie, maar omdat ons God eer en omdat ons in liefde leef. Na Golgota is liefde die diepste realiteit, waaruit ons moet leef. In verse 9 - 10 word verduidelik dat hierdie liefde vir ons naaste eintlik was wat die Wet met ons moes bereik. Die Wet kon dit egter nie vermag nie. Die Wet kan ons leer wat sonde is, maar laat ons daarna in ‘n doodloopstraat, aangesien die Wet alleen nie ‘n menslike hart kan verander nie. Dis iets wat slegs die Gees met ons harte kan doen deur ‘n liefdevolle verhouding met God in Jesus. Paulus herinner ons dat dit is waarom Jesus gesê het: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Liefde verander die wêreld, een hart op ‘n slag. Dis iets wat die Wet nie kan doen nie. Paulus gee in verse 11 - 14 ‘n addisionele rede waarom ons reg moet leef met liefde as ons fokus: Dit is láát! Die nag is byna verby en dis amper tyd om wakker te word! Hierby bedoel Paulus dat ons ons tyd moet uitkoop, omdat Jesus enige tyd kan terugkeer. Dis wat hy bedoel met die tyd van ons finale verlossing (v. 11). Ons is natuurlik reeds verlos deur Jesus, maar omdat ons nog tans voortleef in ‘n gebroke wêreld en met sterflike liggame, gaan ons ook van hierdie verganklikheid bevry word, wanneer Jesus terugkom (Rom. 8:19 - 23). Die tyd en geleentheid om ‘n impak vir Jesus te maak, is dus besig om uit te loop. Die dag is op pad; daarom moet ons onsself solank gereed maak en oefen om in die daglig te leef! Om soos mense van die nag te leef, maak nie meer sin nie. Dis ou nuus! Dis vir die ou mens wat nog nie God se verlossing gesmaak het nie. Ons moet nou leef volgens die Nuwe en Goeie Nuus van Jesus.

GEBED: Here, ons God, leer ons om onderdanig te leef aan U. Leer ons om ons gehoorsaamheid aan U aan die wêreld te illustreer deur ons gehoorsaamheid aan die burgerlike owerhede. Leer ons om dit in liefde te doen en ook onderdanig te wees aan mekaar met die liefde, wat U vir ons verdien het aan die kruis. Help ons ook om elke dag die tyd uit te koop en te leef asof die dag aan die kom is!

bottom of page